Colin Lombard (senter) van Kraaifontein en Leroy Ruiters (losskakel/senter) van Bellville, wat vanjaar by Van der Stel-Evergreens rugby speel.


Die gasvryheid en kultuur by die rugbyklub Van der Stel-Evergreens (VDE) in Stellenbosch is van die redes waarom twee voormalige rugbyspelers van Scottsdene-Central in Kraaifontein hulle vanjaar by die klub op Stellenbosch aangesluit het.

“Toe die Covid-19-pandemie alle klubrugby in Maart 2020 tot stilstand gebring het, het ek na die onderhoud van Cape Rugby TV van JP Naude met een van die bestuurslede van VDE gekyk en was verbaas dat ’n klub in die streekkompetisie die behoeftes van hul spelers en gemeenskap eerste stel. Daar is baie groot klubs in Kraaifontein met meer spelers, maar daar is nie so iets daar nie. Ek het besluit ek wil ook deel wees van ’n klub wat spelers eerste stel en dis hoekom ek vanjaar by VDE aangesluit het,” sê Colin Lombard, senter van VDE.

Hy het sy skoolloopbaan aan die Laerskool Eikendal en die Hoërskool Scottsdene voltooi en op 18-jarige ouderdom as matrikulant in 2006 begin speel. Van 2006 tot 2019 was hy een van die rugbyklub Scottsdene-Central se steunpilare.

“Van my vriende het by VDE rugby gespeel en hulle het my vertel van die kultuur en gesindheid by die klub. Dit was vir my ’n aardigheid en uniek, want dis iets wat jy nie by ander klubs kry nie. Ek het met belangstelling geluister as my vriende hieroor gepraat het en dit het interessant geklink. Ek wou ook lid wees van so klub. Die oop-deur-beleid van VDE en die goeie bestuur het my ook aangetrek. My doel as speler by VDE en ons as ’n span is om die klub na nuwe hoogtes te laat reik en om die huidige Noordelikes-liga te wen om promosie na Superliga C te bereik,” sê Lombard.

Spelers wat hy deur die jare bewonder het, sluit in die Springbokke Juan de Jongh, Gio Aplon en Cheslin Kolbe.

“Ek kan ook nie uitgepraat raak oor die ander Bokke – Jean de Villiers en Jacque Fourie – nie. Spelers soos Aplon, De Jongh en Kolbe is nooit regtig beskou as spelers wat Springboktoetse kan speel nie en dit het vir my uitgestaan hoe hard hulle moes werk om in die Bokspan te kom. Boonop het hulle nie ’n tree teruggestaan vir groter teenstanders nie,” se Lombard.

Leroy Ruiters (losskakel/senter), oorspronklik van Ravensmead en tans van Bellville, het gehoor VDE is op ’n missie om die liga te wen om in Superliga C mee te ding en dis hoekom hy betrokke wou raak.

Hy het vir Tygerberg se o.20-span gespeel voordat hy ook sy senior rugby by Scottsdene-Sentraal begin speel het en nou by VDE is.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article