Fibre-optic wire. (Pixabay)


Inwoners van Bonteheuwel is verheug omdat hulle nou ook vesel-internet het.

Vesel-internet is onlangs in die gebied aangeskakel en inwoners voel hierdie ontwikkeling kan hulle net bevoordeel.

Angus Mckenzie, ’n plaaslike raadslid, sê die inwoners het lank gewag, maar is bly hul beurt het uiteindelik gekom.

“In die moderne tyd kan niemand meer sonder hoëspoed-internet nie. Kinders gebruik dit om leerwerk en skooltake te doen, en ook vir ontspanning. Sedert die koms van die koronavirus werk al hoe meer mense van die huis af, en met die hoë koste van data is dit altyd raadsaam om eerder vesel te gebruik,” sê McKenzie.

McKenzie sê dit was ’n stryd om vesel-internet in Bonteheuwel te kry omdat die uitrol van vesel in ander arm gebiede problematies was.

“Inwoners pleit al vir jare dat hulle vesel-internet nodig het. Dit was ’n vyf jaar lange stryd om tot by hierdie punt te kom, maar ons is trots daarop dat Bonteheuwel ook nou met die buitewêreld connected is. ’n Gemeenskap wat met die buitewêreld verbind is, is ’n vooruitstrewende gemeenskap.”

McKenzie benadruk hoe die vesel-verskaffer en die gemeenskap saamgewerk het.

“Binne twee maande nadat hulle met die infrastruktuur begin het, was dit klaar. Die meeste van die werk wat gedoen is, is ook deur plaaslike werkers gedoen en die verkopers kom ook uit hierdie gebiede. Ons kon ook onderhandel dat elke skool in Bonteheuwel nou gratis internet het, sodat hulle ook deel kan hê aan die nuwe wêreld van inligtingstegnologie,” sê hy.

Sergio Rudimuldu, ’n inwoner van Bonteheuwel, sê hy verwelkom die koms van vesel-internet met ope arms.

“Ek het in die verlede van ’n ander diensverskaffer gebruik gemaak. Dit was dubbel so duur en daar was baie probleme. My vrou werk permanent van die huis af en soms moes ek haar elders neem om dokumente te laai omdat ons internet af of te stadig was. My dogter doen rekenaarklasse en die nuwe vesel-internet help regtig. Dit het lank gevat, maar ons is dankbaar,” sê Rudimuldu.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article