By die bekendstelling van die uitsaaiers van die Netbal Wêreldbekerwedstryd wat in 2023 in Kaapstad gehou gaan word, was die voormalige afrigter en kaptein van die 1995-Proteas wat in Birmingham, Engeland, die silwermedalje verower het. Van links: Marlene Wagner van Brackenfell, afrigter, prof. Debbie Hamman, kaptein van 1995, en Joan Smit van Windhoek, die streeksontwikkelingsbestuurder van Wêreldnetbal in Afrika.


Met die Netbal-wêreldbeker wat in 2023 in die Kaapstadse Internasionale Konferensiesentrum gehou gaan word, was die kaptein en afrigter van die span wat in 1995 die silwermedalje in Birmingham in Engeland verower het, by die bekendstelling van die uitsaaiers in Kaapstad.

Die bekendstelling is op Woensdag 2 Maart gehou en Cecilia Molokwane, die president van Netbal Suid-Afrika, het gesê daar is geen druk op die Proteas nie, maar hulle sal op die wennerspodium wees.

“Jy moet onthou in 1995 het Suid-Afrika toe net teruggekeer na internasionale sport, nadat Apartheid afgeskaf is. Ons het toe ná ’n afwesigheid van 23 jaar weer die internasionale arena betree en ons is in dieselfde groep as Nieu-Seeland geloot en moes hulle in die halfeindronde klop om tot die eindstryd teen Australië deur te dring. Ons het die Kiwi’s met twee doele geklop. Ons voormalige spanmaat Irene van Dyk was ook in die Kiwi’s se span,” vertel prof. Debbie Hamman van Durbanville, destyds die 1995-kaptein.

Ter voorbereiding vir die Wêreldbeker het die Proteas aan ’n twee weke lange toernooi deelgeneem voordat hulle die week voor die toernooi Engeland toe is. Suid-Afrika het voor 1995 laas in 1963 en in 1967 gespeel toe Marlene Wagner van Brackenfell, die afrigter van 1995, self gespeel het.

“In 1994 het SA ’n span Engeland toe gestuur – die eerste keer in 21 jaar dat ons meegeding het. Ons het teen Noord-Ierland, Wallis en vyf toetse teen Engeland gespeel,” vertel Wagner. Sy sê die Proteas moes vasstaan en in hulself en hul vermoëns glo omdat hulle deur die jare aan geen internasionale toernooie kon deelneem nie. Sy is baie opgewonde oor die Netbal-wêreldbeker wat nou hier vir die eerste keer en spesifiek op die Afrika-vasteland aangebied gaan word.

’n Speler van die Proteas wat dopgehou moet word, is Ine-Marie Venter.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article