Die laerskoolleerders van Jan Kriel-skool sal volgende kwartaal ’n splinternuwe spesialis-leersentrum begin gebruik.
Die Logo-sentrum, afgelei van Leer, Ondersteuning, Groei en Ontwikkeling, is verlede Donderdag (24 Maart) amptelik geopen met ’n inwydingseremonie en demonstrasie van die onderrighulp wat dit bied.
Die sentrum bestaan uit twee ruim vertrekke met 20 rekenaarhokkies elk. Hier sal die leerders stemherkenning- en skermlees-programme as leerhulpmiddels kan gebruik. Elke lokaal is ook toegerus met vier afsonderlike transkribering-hokkies met skuifdeure wat privaatheid bied. Die aanbouing, met een lokaal vir die grondslag- en een vir die intermediêre fase, verbind die twee dele van die laerskool aan mekaar.
Gerrit Odendaal, die skoolhoof, sê die assesserings-akkommodasie-sentrum (bekend as Saalo) by die hoërskool lewer reeds dekades lank ’n ongelooflike bydrae, maar ’n soortgelyke en groeiende behoefte het by die laerskool ontstaan.
Die Logo-sentrum is dus die infrastruktuur wat nodig is “waarbinne leer, onderrig en assesserings-akkommodasie kan plaasvind, wat ons leerders kan bemagtig om hul hindernisse te kan omseil en sodoende hul volle potensiaal te ontsluit”.
Odendaal sê uit ervaring het hulle besef vroeë intervensie is belangrik. “Ons sien die verskil (in vordering) oor jare as ’n leerder vroeg ontvang word.”
Die sentrum het in 2018 een van ds. André van Wyk, direkteur van die Jan Kriel-instituut, se eerste projekte geword. Odendaal sê hulle het gehoop en gedroom om die sentrum vanjaar te kan inwy, want Jan Kriel-skool word op 4 Mei 85 jaar oud. “Nee, ons wil nie wag tot dan nie, ons wil hê die kinders moet die sentrum begin gebruik.”
Van Wyk het die rol van die instituut en die Jan Kriel-kommissie (JKK) verduidelik in die konteks dat die infrastruktuur aan die (NG) kerk behoort en dit die kommissie se taak is “om dit op te pas en uit te bou”.
“Dit gaan oor die Here se hart vir ons kinders – ook om kinders met spesiale behoeftes op welke manier ook al in die lewe ’n kans te gee.”
Die Logo-sentrum is die grootste projek wat die JKK nog finansieel aangepak het, sê Van Wyk.
Mariet Oosthuysen, onderhoof en departementshoof van die grondslag- en intermediêre fases, wat vier jaar gelede die wens geopper het dat die laerskool ’n Saalo-sentrum benodig, het gesê dis ’n besonderse voorreg. Die kinders kon help om die naam te kies en aangesien hulle graag met blokkies speel, moes “ons juffrouens toesien dat ons amper by Lego uitkom”.
Oosthuysen het verduidelik “assesserings, akkommodasie en konsessies” beteken “om leerders wat hindernisse tot leer het of ervaar, in staat te stel om hul ware vermoë in assessering te demonstreer”.
Met tegnologie wat voordurend verbeter, wil hulle poog om dit optimaal te benut om die spektrum van uitdagings wat leerders ervaar, te oorbrug.
Liezl Vosloo, ’n onderwyseres, het gesê die sentrum bied nie net alternatiewe assessering nie, maar help om leer lekker te maak. “En hoe lekker kan ons dit maak met rekenaars en tablette – tegnologie is lekker.”
Die grondslagfase sal op tablette toegang hê tot die Jolly Phonics-program.





