Die Hoërskool De Kuilen se matrieks van 1972 het onlangs hul 50- jaar reünie gehou.

Credit: cr

Oor die afgelope 50 jaar het heelwat verander – daarvan kan die Hoërskool De Kuilen se matrieks van 1972 wat met groot opgewondenheid op Saterdag 12 Maart hul halfeeu-reünie by die skool gehou het, getuig.

Een van die oudleerders, Albin Bowler van Bellville, sê hulle was destyds 48 leerders in matriek.

“Vyf klasmaats het ons al ontval, vyf woon in die buiteland, en die res is oor die hele land versprei.

“Die skool het toeka 350 leerders van st. 6 tot st. 10 gehad. Vandag is daar 1 560 leerders. Meer klaskamers is oor die jare aangebou en die sportvelde het verdubbel met ’n pragtige paviljoen. En dan is daar ’n ‘geweldige’ sportsentrum. Die matrieks van 1972 het hulle verstom aan al die uitbreidings.”

Bowler sê al is reünies elke tien jaar gehou, het van die 21 klasmaats wat opgedaag het, mekaar meer as 30 jaar laas gesien. “Dit op sigself was emosioneel. Almal het in mekaar se vreugdes gedeel.”

Die groep het die middag al by die skool bymekaargekom. Die aand is ’n kort program aangebied voor dat’n heerlike spitbraai geniet is.

Bowler sê hulde is gebring aan die vyf wat oorlede is en hul destydse hoofmeisie, Tina Brynard (née Strauss), het ’n kort maar pragtige toespraak gehou.

“Baie staaltjies is oor die ou skooldae vertel,” sê Bowler. “Almal het saamgestem dat ons uitstekende onderwysers gehad het.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article