Brendon van Rensburg van Goodwood met een van die kunswerke wat hy geverf het.

Credit: SYSTEM

Die jong, talentvolle Brendon van Rensburg (18) van Goodwood is passievol oor musiek en kuns en hy laat nie toe dat sy omstandighede sy toekoms bepaal nie.

Van Rensburg is sedert hy drie jaar oud was in pleegsorg en is tans ’n inwoner van die Goodwood-kinderhuis. Hy teken enigiets van potloodsketse tot natuurtonele.

Kapt. Waynne Theunis, woordvoerder van die Goodwood-polisie, was opgewonde om oor die jong man se talent te praat en wou sy talent aan die breë publiek bekend stel.

“Van Rensburg is ’n skaam, jong man, maar dat hy talent het, kan nie weggeredeneer word nie. Hy was ’n leerder aan die Laerskool Koos Sadie in Goodwood en het sy hoërskoolopleiding aan die Hoërskool Westcliff in Bellville voltooi.

“Ek glo met die regte leiding en hulp van mede-kunstenaars kan Van Rensburg dit nog ver in die lewe bring,” sê Theunis.

“My liefde vir kuns was nog altyd daar, maar die afgelope vier jaar het dit geblom. My kunsonderwyser het my verskeie tegnieke van skets en teken geleer en ek vorder goed. Ek het ongelukkig nie al die benodigdhede soos verf, verfkwassies, potlode, ’n papierbord of verfdoeke om my kunsloopbaan verder te voer nie. Met my verjaardag wat op Vrydag 22 April gevier word, hoop ek die publiek sal my kan help,” sê Van Rensburg.

Benewens sy kunsbenodigdhede het hy ook klere, ’n selfoon en toiletware nodig.

Indien die publiek kan help, kan hulle die huismoeder by 084 322 2403 skakel.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article