Altesame 19 rolle koperkabel is in die kattebak van een van die voertuie gevind.


Vyf mans is verlede Dinsdagoggend vroeg aangekeer vir die besit van vermoedelik gesteelde oorhoofse elektriese kabels ter waarde van sowat R85 000.

Lede van die Durbanville-polisie en hulpwetstoepassingsbeamptes van Stad Kaapstad, verbonde aan ’n landelike sekerheidsgroep, het gereageer op ’n klagte van moontlike kabeldiefstal op ’n plaas naby Fisantekraal.

Hulle het die gebied met termiese kameras gemonitor en gesien die verdagtes werk in twee groepe – elke groep met ’n eie voertuig.

Die polisiebeamptes en wetstoepassingsbeamptes het die verdagtes genader, maar hulle het op vlug geslaan. Hulle is kort daarna aangekeer.

Die polisie het beslag gelê op die twee voertuie wat in die vermeende misdaad gebruik is. Altesame 19 rolle oorhoofse elektriese 12kV-koperkabel van sowat 1,2 km lank is in een van die voertuie ontdek.

’n Draadsnyer wat moontlik in die misdaad gebruik is, is ook in die kattebak van een van die voertuie gevind.

Die vyf verdagtes sou later verlede week in die Bellville-landdroshof verskyn het op aanklagte wat verband hou met diefstal en beskadiging van noodsaaklike infrastruktuur.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article