By ’n onlangse vroue-oggend ten bate van Huis Jabes is die sanger Leah, Adri Klindt, stigter van Huis Jabes, die aktrise en ambassadeur vir Huis Jabes Therese Bam, die skrywer Ilse Venter en Annemie Klindt, ook van Huis Jabes. FOTO: Desirée Rorke


Mishandeling begin so klein dat dit maklik is om nie die gevaartekens raak te sien nie.

Die gruwelprentjie word eers veel later ingekleur.

Só vertel Ilse Venter in haar nuut vrygestelde boek So lyk ’n vrou van haar 40 jaar van hel saam met ’n gewelddadige narsis.

Venter het vroue van reg oor die Kaap toegespreek by ’n onlangse vroueoggend ten bate van Huis Jabes by 360 Bloemendal in die Durbanville-wynvallei.

Huis Jabes is sedert 2008 ’n veilige hawe vir mishandelde vroue om die kringloop van huishoudelike geweld te ontsnap.

Sedertdien het sowat 900 vroue weer by die tehuis hoop gevind om hul lewe na mishandeling te hervat.

“Mishandeling is in die verlede baie toegesmeer en stilswye bly nog steeds die basis van mishandeling. Elke vrou wat mishandel word, het haar eie redes vir hoekom sy bly. Vir my was dit oor die aanvaarding waarna ek gesmag het ná my kinderjare met ’n afwesige pa en ook vir my kinders en om finansiële redes. Ek het die huis en lewenstyl gehad wat ek gedink het goed en reg was. Die waarheid is egter dat ek gebly het ten koste van my kinders wat ook onherstelbare skade gely het,” sê Venter.

Venter was net 16 toe sy haar skoolliefde ontmoet het, later met hom getrou het en haar eie mishandeling begin het.

“As jy jonk en verlief is, is die liefde baiekeer te blind om die gewelddadige neigings en jaloesie raak te sien. Die ‘jy is myne, net myne of niks’-retoriek se hartseer besef jy eers later.

“Maar daar is hoop om uit ’n gewelddadige huwelik of verhouding te kom, en daar is lewe daarna en daarom is dit so belangrik vir vroue om ’n toevlug te hê,” sê Venter.

Veral finansiële afhanklikheid is ’n faktor wat vroue in mishandeling gevange hou.

“Die afgelope 14 jaar van Huis Jabes se bestaan het ek persoonlik al honderde vroue gesien wat by Huis Jabes aankom met net die klere aan hul lyf, selfs die motor waarmee sy ry was nie haar eie nie, en ’n bankrekening is iets waartoe sy jare gelede toegang gehad het,” sê Adri Klindt, stigter van Huis Jabes.

Klindt sê gesinsgeweld begin gereeld met finansiële mishandeling.

Sy adviseer vroue aan om finansieel onafhanklik te wees.

“Verminder jou skuld en spaar minstens 10% van jou inkomste. Beskerm jou inkomstevermoë en onthou hoe vroeër jy begin spaar, hoe beter. Rykdom gaan nie oor die hoeveelheid geld in jou beursie nie, maar wel oor die inkomste wat jy kan genereer uit die kapitaal wat jy het,” sê sy.

Sy ontmoedig vroue om sekuriteit vir iemand anders te teken of in iets te belê wat sy nie verstaan nie.

Volgens Klindt is finansiële mishandeling iets wat baie in ons samelewing voorkom sonder dat die slagoffer besef sy word mishandel.

“Dit gebeur wanneer finansies beheer word en geld weerhou word. Baie vroue word ook verhinder om te werk en skuld word doelbewus aangegaan. Geld is dikwels een van die grootste obstruksies wat slagoffers in die gesig staar en heel moontlik die sterkste faktor wat hulle ontmoedig om hul mishandelaars te verlaat,” sê Klindt.

Sandra*, ’n inwoner van Huis Jabes, het vertel van haar eie ervaring met gesinsgeweld.

“Nes so baie ander vroue, het ek ook stilgebly, want daar was nie finansies nie, waarheen sou ek gaan? Vir sommige vroue raak dit ’n kringloop van slegte verhoudings tot jy besluit genoeg is genoeg.”

Met haar aankoms by Huis Jabes, sê Sandra, het sy dadelik veilig en tuis gevoel.

“Ek is uit ’n donker gat uit gehaal om weer mens te voel. Ek hoef niemand te soebat en te smeek as ek iets nodig het nie, want alles wat ek nodig het, word vir my gegee. Ek het die geleentheid om weer te begin.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article