Keanu Pieters het drie goue medaljes by die Suid-Afrikaanse kampioenskap in baanfietsry ontvangs.

Credit: SYSTEM

Hy ry nou maar eers ’n jaar lank fiets, maar Keanu Pieters (9) het al klaar gewys hy het talent om mee rekening te hou.

Dié sportman het einde Maart drie goue medaljes by die Suid-Afrikaanse kampioenskap in baanfietsry in die Bellville-velodrome ontvang – vir die 3 000 m-wedren, asook die 500 m- en die 1 000 m- tydtoets.

Wat dit meer ongelooflik maak, is dat hy eers begin vanjaar amptelik op nasionale vlak aan pad- en baankampioenskappe begin deelneem het.

“Dit was my hoogtepunte vandat ek begin fietsry het,” sê dié leerder van die Laerskool Bellville-Noord.

Keanu se belangstelling in fietsry het begin toe hy verlede jaar oor naweke saam met sy gesin gaan bergfiets ry het.

“Ek het nie eintlik veel in padfietsry belang gestel nie, nog minder in baanfietsry,” sê hy.

Hy het uitgevind ander lede van sy familie het al aan pad- en baanitems deelgeneem en besluit om dit uit te toets.

“Van toe af het ek nog nie teruggekyk nie.”

Sy gunsteling-oomblik in die sport is wanneer hy van die fiets afklim. “Hoe ek voel … dit is net wonderlik.”

Keanu is lid van Kinetic-fietsryklub en oefen by die Bellville-velodrome. Hy is dankbaar vir die ondersteuning van die klublede, asook sy familie.

Hy woon in Welgemoed saam met sy ouers, Lee en Gaynor, sy sussie Abigayle (6) en broer Joshua (13).

Sy ouers sê hulle het einde verlede jaar besef hy het ’n groot liefde vir die sport. “Ons as ouers is verskriklik trots op sy prestasies. Ons glo elke sport het sy opofferings. Maar solank ons kinders geniet wat hulle doen, is dit vir ons ’n plesier,” sê Lee.

Die baanfiets-gogga het nog nie die res van sy gesin gebyt nie en hulle ry steeds meestal oor naweke vir plesier bergfiets.

Keanu sal graag eendag oorsee wil gaan fietsry om sy land te verteenwoordig.

Intussen fokus hy op sy verskeie ander belangstellings – skaak, rugby, houtwerk. “Ek is redelik besig …. en probeer maar as ek tyd kry om so veel aandag moontlik aan my fietsry-oefening ook te gee.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article