Die polisie in Bellville doen ’n beroep op besoekers aan die Jack Muller-park om bedag te wees nadat minstens twee mense die afgelope maand daar beroof is.
In albei gevalle het die oortreders vanaf die N1 oor die draad tot in die park geklim, waarna hulle in die bosse weggekruip en gewag het vir ’n geskikte slagoffer om te beroof.
AO Gawie Hawkins, woordvoerder van die Bellville-polisiekantoor, sê die voorvalle het albei op weeksdae en bedags gebeur, en die slagoffers was in daardie stadium alleen.
Die Vriende van die Jack Muller-park sê in ’n verklaring dit is ’n ongelukkige werklikheid dat ongure karakters gewilde plekke besoek waar hulle dan gewone burgers teiken. “Ons is heeltemal bewus hiervan en baie bekommerd (hieroor) … en ons is gereeld in kontak met parkbestuur.”
Hulle sê die park is gewilder as die meeste parke in die nabye omgewing en daar moet dringend aandag aan sekuriteit gegee word.
Jean Beukman, hoof van die Boston- stadskorridor-verbeteringsdistrik (CID), sê hulle patrolleer nou meer in die park en besoekers sal hul voertuie baie meer in daardie gebied opmerk.
Hy en die Vriende vra dat mense nie ophou om die park te gebruik nie.
“Hoe meer mense, hoe minder misdadigers en haweloses sal daar wees,” sê Beukman. “Ons wil nie hê die park moet deur ongewenste mense oorgeneem word nie.”
Die Stad het ook aansoek gedoen vir meer sekerheidsbeamptes. Die heining langs die N1 gaan ook opgeknap word, sê hy.
Hawkins raai besoekers aan om nie alleen te loop nie en eerder in groepe te oefen. Diegene wat nie in ’n groep kan oefen nie, moet liefs ’n hond saamneem.
“Moet ook nie waardevolle artikels soos juweliersware saamdra nie,” sê hy.
Beukman beaam dit. Hy sê selfone moet nie oop en bloot in die hande gedra word nie en die Vriende raai gebruikers aan om nie met oorfone te loop nie.
Die Vriende sê parkgebruikers moet verdagte persone rapporteer.





