As jy ’n kwinkslag en bier geniet, is The Kennel Brewery net vir jou.
Drinkers kan hul verlustig in biere met name soos die Alesation (’n India pale), ’n Porter Collie of ’n Lagerdor.
Boonop is hulle mal oor honde en hou hulle maandeliks vir diereorganisasies geldinsamelings.
“Ek was nog altyd mal oor honde,” sê Paul Freysen (40), die eienaar en hoofbrouer van Durbanville. “Honde praat nie terug nie.”
En nou kan liefhebbers van Kennel-biere sommer self met hom kom gesels.
Freysen, wat sowat vyf jaar gelede sy brouery begin het, het onlangs ’n taphuis in samewerking met die Rusty Oak-restaurant begin. En soos dit Freysen betaam, is die naam ook woordspeling – met die naam St Beer Yard.
Daar is honde (aan leibande) en mense almal welkom. Daar word selfs, soos die biere, water uit ’n spesiale kraan aan honde verskaf.
Freysen glo ’n mens moet sover moontlik jou passie uitleef – iets waarvan hy eerstehands kennis het. Hy het eers 18 jaar in die motorbedryf gewerk en toe op ’n dag besluit om sy eie besigheid te begin.
Dit was ’n waagspel, want tot in daardie stadium het hy meestal tuis gebrou. Hy het geweet hy hou van kosmaak en het huishoudkunde as vak op skool geneem, maar die gogga het eers behoorlik gebyt toe hy vir hom ’n stel koop waarmee jy tuis bier maak. “En dan kom mense oor en dan drink hulle my bier uit en dit word ’n duur storie.”
Die bier het gou gewild geraak en is selfs al by winkels in Durban en Johannesburg beskikbaar. Die taphuis was egter die volgende droom.
Daar kan hy sy klante in lewende lywe oor naweke sien (wanneer dit oop is), terwyl hy en sy assistentbrouer, Ryan Dube, in die week by die brouery self werk.
Daar is 11 bierkrane by die St Beer Yard en daar word gereeld iets nuuts bekend gestel. “Ek het ’n vaste core range en die res van die tyd is dit heeltyd speeltyd.” Daar is iets vir almal. “As jy hier kom en daar is nie iets vir jou nie, is jy nie ’n craft bier-persoon nie,” sê hy.
Daar moet natuurlik vir elke nuwe bier ’n snaakse naam uitgedink word. “My kop werk altyd oortyd. Ek was ’n groot fan van Casper de Vries toe ek jonk was.”
Hy is beskeie oor sy sukses, maar Freysen het al heelwat pryse vir sy bier gewen. Hy gaan ook weer in Junie vanjaar na die Capital Craft Beer Festival in Pretoria. Hierdie fees is die grootste bierfees in die land en lok jaarliks sowat 10 000 mense.
Dit is ’n groot logistieke uitdaging, wat onder meer behels dat al Freysen se biere per koerier Gauteng toe gestuur word, maar hy geniet die fees en die kans om ander brouery te sien waarmee hy moontlik kan saamwerk.
Die moeilikste bier om te maak, sê hy, is ’n lager. “Dit verg tegniek en tyd.”
En sy gunsteling is ’n Hazy IPA.
Sy vrou, Anri, wat in Parow werk, en dogter, Anna-May (7), ondersteun hom volkome. Hy sal selfs soms vir Anna-May ’n slukkie gee. “Sy’t ’n goeie smaaksin,” sê hy.
Freysen gaan vanjaar op aanlyn verkope fokus. Hy droom nie van ’n reuse-bierkoninkryk wat daagliks duisende liters vervaardig nie.
“Ek wil dit eerder klein en interessant hou.”





