By HOOP is (van links) Amanda Goosen, Michelle Sieberhagen, Annette Kleyn en Wilinda Ford. FOTO: Desirée rorke


Die pandemie het almal swaar getref, maar vir baie mense in ons gemeenskappe is daar baie min of geen ondersteuning nie.

Dit is dié mense na wie die plaaslike nie-winsgewende liefdadigheidsorganisasie HOOP uitreik.

“HOOP staan vir ‘Help Ons, Ondersteun Plaaslik’ en dis presies wat ons daagliks doen; ons ondersteun mense plaaslik in ons eie gemeenskap. Kinders, gestremdes, bejaardes en selfs diere-organisasies vind baat by HOOP,” sê Wilinda Ford, projekbestuurder.

“Ons het daagliks met mense se hartseer te doen,” sê sy.

Sy vertel van ’n bejaarde wat in ’n kamer woon met geen familie nie en net ’n Sassa-toelaag om van te oorleef.

Vir hom word elke maand ’n koopbewys vir noodsaaklikhede gegee.

Ook, as ’n kind deur maatskaplike dienste verwyder word met net die klere aan sy of haar lyfie, tree die organisasie in met skenkings, en dit wat hulle nie het nie, word aangekoop.

“Ook as die polisie op ons knoppie druk met ’n geval van gesinsgeweld, ondersteun ons dadelik,” sê Ford.

Sy vertel ook van ’n seun wat met ’n stel spykerskoene gehelp is, wie se enkelouer dit nie kon bekostig nie.

“Ook as ’n plaaslike skool ons bel oor ’n kind wat hulp benodig, help ons.”

HOOP is vier jaar gelede deur Wimpie van der Sandt gestig as die liefdadigheidsafdeling van Bok Radio.

HOOP se trust word deur SP Prokureurs in Brackenfell bestuur.

Ford sê die organisasie is dankbaar vir elke borg, besigheid, skenker en vrywilliger se getroue ondersteuning wat hul werk moontlik maak.

“Ons sê dankie vir jou bydrae en harde werk – voor en agter die skerms.”

Gesinne wat deur die organisasie ondersteun word, word streng gekeur.

“Ongelukkig is daar jou ‘social hoppers’ wat dit moeilik maak vir ander wat regtig swaarkry. Dit is mense wat hop van een organisasie na ’n ander en misbruik maak van die hulp. Sommige van dié gesinne word deur tot so veel as drie organisasies met kospakkies gehelp,” verduidelik Ford.

HOOP beoog om nog vanjaar ’n haarsalon vir ’n plaaslike ouetehuis op die been te bring en om na ’n diere-organisasie uit te reik.

“Ons is ook baie opgewonde oor die groot bederf wat ons beplan vir kinders om Kersfees in Julie te vier.”

Hoe jy betrokke kan raak

“Pak jou kaste reg en bring vir ons goeie, bruikbare tweedehandse klere, skoene, speelgoed, leesboeke, beddegoed, kombuisware, asook ‘kaggel-ornamente’,” sê Ford.

Hierdie artikels word by HOOP se winkel verkoop en die geld word vir projekte in die gemeenskap aangewend. Donasies vir toilet- en sanitêre ware, volwassene- en babadoeke asook nie-bederfbare voedsel word ook aangevra.

“Finansiële bydraes en koopbewyse is altyd welkom. Indien jy ’n werkgewer is en ’n vakante pos by jou onderneming het, plaas ons dit vir jou op ons Facebook-blad. Ook vrywilligers is welkom om ons te kontak.”

Die ure is Maandae tot Donderdae van 09:00 tot 16:30, Vrydae van 09:00 tot 15:00 en Saterdae van 09:00 tot 13:00.

Indien jy graag ’n vrywilliger wil wees, kontak Wilinda Ford by hoop@bokradio.co.za. HOOP is geleë by Patryssingel 13, Eenheid 17, Okavango Park, Brackenfell.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article