Inwoners van Morningstar in Durbanville is verheug oor die heining wat die Stad Kaapstad tussen die nuwe woonontwikkeling en Langebergweg opgerig het.
“Ons het nou gemoedsrus dat ons kinders veilig is en nie in die straat sal beland nie. Almal het vir hul kinders se veiligheid gevrees,” het Elizabeth de Wee, ’n inwoner, gesê toe TygerBurger daar was.
Vir misdadigers, wat dikwels kortpad gekies het deur die woonbuurt, het die nuwe heining minder wegkomkans meegebring.
Fietsryers, wat ook dikwels op dié deel van Langebergweg ingewag en beroof is, is ook nou veiliger.
Die heining van sowat 140 m lank is teen ’n koste van R475 000 deur die Stad se padinfrastruktuur-bestuursdepartement van die stedelike mobiliteit direktoraat tussen Langebergweg en Keilstertstraat opgerig. Die heining is verlede Maandag voltooi.
Dit kom ná versoeke deur Theresa Uys, in haar hoedanigheid as raadslid vir wyk 112, dat ’n heining vir die veiligheid van inwoners en padgebruikers opgerig word.
Uys, ook burgemeesterskomiteelid vir korporatiewe dienste, het in ’n mediaverklaring gesê ’n heining was nie deel van die oorspronklike behuisingsprojek nie, maar sy het vir een gemotiveer weens die veiligheidsrisiko’s wat daarmee gepaard gaan om langs die besige Langebergweg te woon.
“Ons roem ons daarop om ’n veilige stad te wees; daarom moet die Stad iets doen om sy inwoners teen onvoorspelbare gebeure te beskerm. Ek is baie bly dat die heining opgerig is, al het dit langer geneem as verwag. Dit gaan baie help om ons mees kwesbare inwoners, die kinders en bejaardes, te beskerm” sê sy.
Uys het mense daaraan herinner dat hulle steeds self vir hul eie veiligheid verantwoordelik is.




