Die seëvierende o.15-rugbyspan van die Hoërskool De Kuilen.


Die afrigter van die Hoërskool De Kuilen se o.15-rugbyspanne sê die span speel vir hoër doelwitte.

Die A- en B-spanne het die afgelope naweek met besoekers uit die Weskus afgereken. Die spanne van Hoërskool Vredenburg is met 10-0 (A-span) en 10-7 (B-span) geklop.

Dit was die sewende keer hierdie seisoen dat die A-span onoorwonne van die veld stap – met ses seges en een gelykopuitslag op sy kerfstok. Die spanne wat al voor die Elephants en Pittbulls die knie moes buig, is die hoërskole Groote Schuur, JG Meiring, Somerset College, Parow en Vredenburg. Die wedstryd teen Vishoek het gelykop geëindig.

Cami Viljoen, een van die afrigters, sê hy het aan die begin van die seisoen ’n hele oefensessie opgeoffer om met die seuns te praat.

“Ons speel hier vir iets groter as rugby. Ons het gepraat oor wat ons wil bereik en wat ons vir ons gemeenskap wil beteken.

“Ons het besluit dat ons eerstens ons families verteenwoordig en dan ons gemeenskap. Daarna doen ons dit ook vir die verpleegsters en polisiebeamptes wat hulle afsloof vir die gemeenskap,” sê Viljoen.

Viljoen sê hy en sy mede-afrigter, Charles Martin, sien uit na die res van die seisoen en hoop hulle kan dit onoorwonne afsluit. Hul volgende uitdaging is teen die span van die Hoërskool Fairmont.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article