Die Jirre is my Wagter.
Reeds met die titel van Elias P. Nel se nuwe boek weet ’n mens hier kom iets wat die siel gaan roer.
Nel, die skrywer van wydgeprese boeke soos Iets goed uit Verneukpan en Bek sonder brieke, keer terug na sy Noord-Kaapse (meer spesifiek Boesmanlandse) wortels met hierdie samevatting van bekende Bvbeltekste.
Wat die samevatting van hierdie “Psalms en inkele annerlike tekse ytie Bywel yt” so uniek maak is omdat Nel vir Noord-Kaapse Afrikaans is wat Adam Small vir Kaaps is – ’n taalreus.
Die versoeking is groot om baie van die geskrifte hier te herhaal, maar dit sal ongevraagd wees. Elkeen wat sy hande op hierdie boek lê, moet dit lees in die hoekie van sy wêreld waar hy vrede het.
Nel vertolk die bekende Spreuke 20 vers een tot sewe as volg:
Spreeke 20:1-7
wyn, die maak vir jou ligsinnig
en lat jy geraas lope maak
as jy vannie dronkgeit lope slinger dan’s jy dom
’n mens is vir die koning net so versigtag as bang
soos wat jy nou vir ’n kwaai lou sou wees
wat as jy’ie koning kwaad maak dan’s jy in gevaar
dis beterder om nie stryery te lope soek’ie
ennage domdwaas kan ’n stryery beginne
Nel skryf in die voorwoord van die bundel dat die oorbekendheid van Bybeltekste soms die waarde van die tekste verminder.
“Hierdie bundel poog om met die kyk deur ’n nuwe taalbril die oorspronklike inhoud weer nuut, fris en vars te maak, sodat waarde hernieud ontdek kan word,” skryf Nel.
Hy betreur die feit dat die streeksvariëteit wat in die boek gebesig word ’n sterwende tongval is.
“Baie van die ou sprekers het reeds gesterf en hierdie boek het dan ook ten doel om die uniekhede binne hierdie streeksvariëteit na vore te bring en die soepele diversiteit van Afrikaans te belig. Ook het dit ten doel om die vindingrykheid van die sprekers en terselfdertyd ook die rykheid van Afrikaans as gebruikstaal te onderstreep,” sê Nel.
Prof. Nico Koopman, teoloog en viserektor van die Universiteit Stellenbosch, het die bekendstelling van die boek bygewoon en sê veral twee dinge het hom opgeval.
“Die variëteit van Afrikaans waarin die boek geskryf is, het my aan my ouers laat dink, want ek het my eerste nege lewensjare langs die Gariep deurgebring. Veral die gebruik van die woord ‘tjêreltjeent’ het gedagtes uit my kinderjare opgeroep.
“Hierdie bundel dui op die verskeidenheid identiteite wat in die variëteite van Afrikaans opgesluit lê,” sê Koopman.
Tweedens, meen Koopman, is die feit dat hierdie bundel by ’n bekende uitgewery verskyn ’n bevestiging van menswaardigheid. “Van hierdie woorde het nog nooit in skrif verskyn nie en hierdie publikasie bevestig die inherente menswaardigheid van al die sprekers van Afrikaans. Dit bevestig ook dat die evangelie ’n evangelie van diversiteit is,” sê hy.
Bel Nel by 072 482 8033 om een van sy boeke te koop.





