Dankbare werkers dra vars groente en water na hul voertuie voordat hulle na hul huise vertrek.


Die nie-winsgewende organisasie SA Water Warriors in Goodwood is tans besig om Afrikaanse leesboeke in te samel nadat hulle tydens hul onlangse uitreikprojek in die Tankwa-Karoo uitgevind het die plaaslike biblioteek het min Afrikaanse leesboeke.

Die Tankwa-Karoo is sowat 200 km van Kaapstad en gaan reeds die afgelope ses jaar onder droogte gebuk. Gehard soos die Karoo is, het die impak van die droogte boere op hul knieë gedwing en hoewel bietjies reën die dorre Karoo effens lafenis gee, is dit te min om boere staande te hou.

“Ons het op Saterdag 21 Mei die Tankwa-Karoo besoek met broodnodige voedsel vir die boere en hul werkers, en ook voer vir hul diere.

“Altesame 150 gesinne het hulp ontvang met volledige kospakkies asook vars groente en water. Baie van die kosvoorraad is aan werkers uitgedeel en dit was meestal die bekende karretjiemense met hul donkiekarre wat geduldig vir hul pakkie gewag het,” sê Deon Smit, stigter van SA Water Warriors.

Die donkies is ook nie afgeskeep nie en elke eienaar van ’n donkiekar het ook mielies vir hul diere ontvang. Boodskappe van dankbaarheid is uit die gemeenskap aan die Water Warriors oorgedra, want daar was nie voorheen bystand van só ’n aard aan die Tankwa-Karoo nie.

“Dis toe dat ons uitgevind het dat die biblioteek Afrikaanse leesboeke benodig en het ons met die insameling van die boeke begin. Ons doen ’n beroep op die publiek om hul Afrikaanse leesboeke te skenk en by ons te kom aflaai en ons sal sorg dat die biblioteek dit kry.

“Altesame 20 watertenks sal ook saam met die leesboeke na die gebiede, wat met brakwater oor die weg moet kom, vervoer word. Geldelike ondersteuning is ook nodig om die watertenks aan te koop en enige skenking sal waardeer word,” sê Smit.

Kospakkies is in rye uitgepak en elk van die 150 gesinne kon hul kospakkie, asook ’n geskenkpak vir die vroue en kinders, in ontvangs neem.

Water Warriors is ook tans besig om geld in te samel vir die skool op Garies nadat hulle ’n hulpkreet ontvang het vir skoolbenodigdhede. Die skool benodig HB-potlode, uitveërs, liniale, skêre, skerpmakers en kleurpotlode om 250 leerders van basiese skryfbehoeftes te voorsien.

“Besoek ons Facebook-blad vir meer inligting en ook foto’s en bankbesonderhede van die skool. Die publiek is ook welkom om my te bel indien hulle meer inligting verlang,” sê Smit.

Besoek die SA Water Warriors se Facebook-blad of bel Smit by 082 738 2702 vir meer inligting

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article