Hendrik Wentzel (58) laat nie gras onder sy voete groei nie.

Credit: SYSTEM

Wanneer een deur toemaak, maak ’n ander deur oop. Só kan die verhaal van Cape Veggie Gardens se stigter, Hendrik Wentzel, beskryf word.

Hy verwelkom groenteboerdery en tuinmakery met ope arms.

Wentzel is ’n 58-jarige wewenaar, tans werkloos, maar het besluit dat hy in sy groenteboerdery gaan belê. Hierdie entrepreneur het soos baie ander weens die pandemie sy werk verloor, maar hy het besluit selfs dít sal hom nie keer om vooruit te gaan nie.

Hy bly tans by sy suster in Ruyterwacht en meen hy is gesond “en daarom kan ek die besigheid weer begin. Ek spit en plant self”, vertel hy.

Retrenchment was skielik en het my platgeslaan. Ek kon byvoorbeeld nie meer huur betaal by my suster nie en my motorpaaiemente is agterstallig.”

Hierdie entrepreneur het Veggie Gardens jare gelede in Johannesburg begin.

“Dit spaar ’n mens baie geld om jou eie groente en kruie te kweek, veral met die pryse deesdae. Ek wil dit nou in die Kaap begin.”

Wentzel was al die jare meestal ’n verkoopsman van produkte soos chemikalieë, skilderye, advertensies ( hier en in Australië van 1990 tot 1991) en die voedselbedryf. Voorheen het hy buiten die versorging van tuine en heinings ook mense se bome verwyder.

Wentzel meet tuine af, spit grond om met bemesting, beenmeel en ’n kalium-en-kalsiummengsel om die grond reg te kry. Die gewildste grootte tuin is 3 x 2 meter. Kliënte kies watter groente hulle wil hê.

“In die groentetuin plant ek gewoonlik die volgende: 30 uieplantjies, 12 spinasie-, 12 kool-, 12 blomkool-, 12 slaai-, 15 aartappel-, 6 tamatie-, 6 boontjieplantjies ens. Dan saai ek bv. 1 x 1 m wortels, beet, radys of rape. Dan kan kliënte ook 2 pietersielie-, 2 ment- en 2 koljanderplantjies kry. So ’n tuin kos min of meer R950.”

Cape Veggie Gardens het al belangstellendes en dit groei daagliks. In die begin gaan Cape Veggie Gardens in Goodwood, Thornton, Parow en Ruyterwacht konsentreer en dan uitbrei na Bellville, Durbanville en Brackenfell.

Om Cape Veggie Gardens te ondersteun het baie voordele, sê hy. “Dit is gesonde, goedkoop groente en kruie in jou tuin. Soos jy gebruik, vul jy elke twee maande weer self aan, of met ’n reëling kan ek dit vir jou in stand hou,” sê Wentzel.

Hy is die toonbeeld van waar daar ’n wil is, is daar ’n weg, ongeag jou ouderdom.

Wentzel wil graag binnekort een of twee helpers aanskaf om só meer tuine te skep. Hulle sal ook 50 jaar of ouer wees. “Op ons ouderdom is werk baie skaars,” sê hy.

  • Belangstellendes kan Hendrik Wentzel  per e-pos kontak by hendrikwentzel57@gmail.com
  • bel op 072 1989 262
  • of kontak via WhatsApp op 072 5233 172

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article