AO Alida van Dyk neem die vingerafdrukke van ’n jong kind.


Inligting is belangrik wanneer ’n kind vermis word.

Dis van kritieke belang dat die polisie oor die nodige inligting beskik wanneer ’n kind vermis raak.

Sulke inligting sluit in vingerafdrukke, die kind se gewig, lengte, haarkleur, liggaamsbou, oogkleur en enige littekens of geboortemerke.

In ’n bewusmakingsveldtog by die CapeGate-winkelsentrum die afgelope Saterdag het die Brackenfell-polisie in samewerking met Pink Ladies ouers genoop om inligtingsprofiele van hul kinders op te stel.

“Die kind se vingerafdrukke word geneem, hy word geweeg en gemeet en die profiele word dan saam met die ouers huis toe gestuur, waar hulle ’n onlangse foto van die kind moet aanheg om in veilige bewaring te hou,” sê kapt. Erica Crous, polisiewoordvoerder.

“Wanneer ’n kind vermis raak, is daar nie tyd om rond te skarrel vir inligting nie, omdat die polisie dit so gou as moontlik nodig het.”

’n Vermiste kind moet so gou moontlik by die polisie aangemeld word.

“Dis ’n mite dat ’n persoon eers ná 24 uur as vermis aangemeld kan word,” sê Crous.

“Ons begin dadelik soek, want hoe langer daar gewag word, hoe kleiner word die moontlikheid van opsporing.

Crous sê die veldtog is goed ondersteun met sowat 300 kinders wat profiele laat opstel het.

Crous sê ouers moet die profiele elke drie maande bywerk.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article