Die grootte en lig- tot donkerbruin kleur van die stompkopkewer maak dit moeilik om dit raak te sien. Wyfies is 1,8 tot 2,5 mm lank, terwyl mannetjies slegs 1,5 tot 1,67 mm lank is.FOTO: Garyn Townsend


Die ekonomiese impak van die stompkopkewer (polyphagous shot hole borer) word gereken op R275 miljard oor die volgende tien jaar.

Veral bome in stedelike gebiede gaan die meeste deur dié indringerspesie geraak word.

Hoewel dit in die Stad Kaapstad nog net in Somerset-Wes voorkom – onder meer by die wynplase Lourensford en Vergelegen – en sover bekend nog nie in die noordelike voorstede nie, is dit net ’n kwessie van tyd voor dit wel sal versprei, het prof. Francois Roets, ekoloog en medeprofessor in bewaringsekologie en entomologie aan die Universiteit Stellenbosch (US), aan TygerBurger gesê.

“Daar is wel ’n moontlike voorval onlangs aangemeld waarna ons nog moet gaan kyk. Maar ek glo dit gaan wel binnekort versprei na ander dele – hoofsaaklik deur die vervoer van aangetaste hout,” sê hy.

Die stompkopkewer is in 2012 vir die eerste keer in Suid-Afrika opgemerk en het sedertdien na agt van Suid-Afrika se nege provinsies versprei, wat dit tans die grootste uitbreking van hierdie indringerplaag wêreldwyd maak, lui ’n mediaverklaring deur die US.

Terwyl die meeste van Suid-Afrika se mees berugte indringerspesies problematies in landelike gebiede is, sal hierdie aggressiewe indringer die grootste impak op bome in stedelike gebiede hê, lui die verklaring.

Indien niks gedoen word om die verspreiding van die kewer te stuit nie, gaan 65 miljoen bome na raming verwyder en veilig tot niet gemaak moet word.

Die potensiële impak van die stompkopkewer op die ekonomie van Suid-Afrika kan ’n yslike R275 miljard oor die volgende tien jaar beloop, en munisipaliteite sal hierdie las moet dra, lui die verklaring.

Hierdie skatting is die resultaat van samewerking tussen ekonome van die US se Skool vir Publieke Leierskap en ekoloë van die DWI-NNS-sentrum van Uitnemendheid in Indringerbiologie (SIB) by die US, die US se departement bewaringsekologie en entomologie en die Instituut vir Bosbou- en Landboutegnologie by die Universiteit van Pretoria.

Die span het ’n modelleringsbenadering, gebaseer op voorspelde impakte, gebruik om die moontlike toekomstige impak van hierdie indringer te simuleer indien niks gedoen word om die verdere verspreiding daarvan te keer nie.

Die bevindings is gepubliseer in die artikel “An assessment of the potential economic impacts of the invasive polyphagous shot hole borer (Coleoptera Curculionidae) in South Africa” in die Journal of Economic Entomology.

Roets, een van die mede-outeurs van die artikel, sê ’n boomryke dorp soos Stellenbosch loop die gevaar om 20 000 van die groot ou eikebome en plataanbome langs sy strate te verloor.

In Somerset-Wes, waar die stompkopkewer vier jaar gelede vir die eerste maal opgemerk is, is meer as 10 000 bome reeds aangetas en sommige van die bome is nou besig om dood te gaan.

Hy sê bome wat in stedelike gebiede voorkom, is meer vatbaar aangesien hierdie bome gewoonlik reeds stres ervaar in ’n stedelike omgewing in vergelyking met dié wat in ’n natuurlike woud voorkom, wat ryk aan biodiversiteit is.

Die stompkopkewer is vir die eerste keer in Durban in 2012 geïdentifiseer. Daar word vermoed dat dit met vragskepe die land ingekom het. Dit het sedertdien na agt van Suid-Afrika se nege provinsies versprei.FOTO: Brian van Wilgen

’n Boomtak wat deur die stompkopkewer besmet is, asook die rondekopkewerswam, ’n uitheemse spesie wat saam met die kewer in omloop gebring is. FOTO: Universiteit Stellenbosch

Prof. Martin de Wit, ’n ekonoom van die US se Skool vir Publieke Leierskap en hoofouteur van die artikel, sê as niks gedoen word om die verspreiding van hierdie indringer te keer nie, sal munisipaliteite landswyd tot 2030 ’n geskatte 65 miljoen bome in stedelike gebiede moet uithaal en veilig ontslae van raak.

Dit sluit die bome op privaat grond buite stedelike gebiede uit.

“Ons benodig ’n nasionale beleid en gekoördineerde strategie vir munisipaliteite om hierdie kewer in sy spore te stop,” waarsku hy.

“Tot op hede is die stompkopkewer nog nie op die regering se lys van uitheemse en indringerspesies wat val onder die nasionale omgewingsbestuur se wet op biodiversiteit nie, wat dit vir munisipaliteite moeilik maak om effektief te reageer.”

Prof. Brian van Wilgen, ’n ekoloog van die SIB en mede-outeur van die studie, sê die opsies vir die bestuur van hierdie indringer is beperk.

“Gegewe die feit dat dit alreeds wydverspreid voorkom, is die uitroei daarvan onmoontlik en die bestuur hiervan sal daarop moet fokus om die verspreiding te verminder en om die impak hiervan te versag.

“ ’n Eerste stap, en waarskynlik die mees ekonomiese een, sal wees om die vrye beweging van potensieel besmette plantmateriaal, hout en houtprodukte te beperk.”

Die klein stukkie goeie nuus is dat die stompkopkewer slegs kort afstande kan vlieg – van 500 m tot twee kilometer.

Sy vinnige verspreiding in Suid-Afrika is dus hoofsaaklik te wyte aan mense wat hout oor munisipale en provinsiale grense heen vervoer.

Die slegte nuus is dat ’n enkele maagdelike wyfie ’n nuwe kolonie kan vestig deur slegs ’n manlike nageslag te produseer en dan met hulle te paar.

Hierdie “perfekte indringer” voorsien ook sy eie kos in die vorm van die swam Fusarium euwallaceae, ’n uitheemse spesie wat saam met die kewer in omloop gebring is, verduidelik Roets.

Navorsing is aan die gang om ’n biologiese beheermiddel teen die swam (Fusarium euwallaceae) te vind wat met die kewer geassosieer word.

Tot op hede is daar geen getoetste en goedgekeurde insek- of swamdoder in Suid-Afrika geregistreer waarmee die stompkopkewerbesmetting behandel kan word nie.

“Enigiemand wat jou vertel hulle sal jou boom red met chemiese middels en swamdoders, jok,” waarsku hy.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article