Heinrich Wentzel, versorger, staan by ’n kind wat sukkel met haar reaksie op die ontvangs van ’n kombersie.


Die Goodwood-kwiltgilde het onlangs die harte van die kinders van die Jo-Dolphin Swartland Assosiasie vir Persone met Gestremdhede bly gemaak met die oorhandiging van kwiltkombersies.

Die dagsorgsentrum versorg kinders en volwassenes met erge tot diepgaande intellektuele gestremdhede, wat in sommige gevalle hulle ook liggaamlik aangetas het.

Jo-Dolphin is ’n nie-winsgewende organisasie en word slegs gedeeltelik deur die departement maatskaplike dienste gefinansier. Die organisasie bedien die Swartland-gebied en is die enigste in sy soort in die Swartland.

Volgens Estrellita Geldenhuys, sentrumbestuurder, verskaf hulle ’n dagsorgprogram en vervoer vir kinders, sowel as nasorgdienste.

“Van ons volwasse groep is opgelei as baristas en kelners en werk te alle tye onder toesig. Ons Cherry Blossom-koffiewinkel is van Dinsdae tot Vrydae oop en besprekings 24 uur voor die tyd is belangrik. Ons bied ook ’n skoenskoonmaakdiens aan waar ons volwasse groep geleer het om skoene skoon te maak en te politoer. Die publiek bring hul skoene om gepolitoer te word en kan dit dan die volgende dag weer afhaal,” sê sy.

??Die organisasie is aanvanklik gedurende April 2007 deur twee lede gestig, naamlik Josephine Matthews en Johanna Maarman en ’n paar besorgde ouers, nadat ’n behoefte aan dienste vir mense met gestremdhede in Malmesbury geïdentifiseer is. Die sentrum is in 2008 geregistreer as ’n nie-winsgewende organisasie by die departement maatskaplike dienste. Hulle het aanvanklik verskeie persele gehuur voordat Malmesbury Lions geld ingesamel en ’n stuk grond in die hartjie van Malmesbury aangekoop het.

Drie skenkers van Malmesbury het geld geskenk en ’n pragtige gebou is gebou wat 80 tot 100 mense kan akkommodeer om te voorsien in alle behoeftes van mense met gestremdhede.

???Hierdie organisasie het tans 34 kinders waarvan daar drie groepe is: 5-12 jaar junior klas, 13-18 jaar senior klas en 18+ volwasse groep.

Op Donderdag 26 Mei het Rita Loubser van Goodwood Kwiltgilde die sentrumbestuurder voor die tyd gekontak om te vra of sy vir leerders kwiltkombersies kan kom uitdeel.

Die kinders was vreeslik opgewonde toe hulle die pragtige kombersies sien. “Soos wat tannie Loubser dit vir hulle individueel uitgesoek en oorhandig het, kon jy die opgewondenheid op hul gesiggies sien.

“Die meerderheid van ons leerders kom uit moeilike finansiële omstandighede en was verskriklik dankbaar vir hierdie kombersies. Die trots wat uit hul gesiggies gestraal het, soos hulle die kombersies ontvang het, was onbeskryflik mooi.

“Ons is ongelooflik dankbaar vir elke donateur wat betrokke raak by Jo-Dolphin. Die kwilte is pragtig en dit gee vir ons leerders vreugde,” sê Geldenhuys.?

Sy sê “dit is vir ons as personeel ’n voorreg om by Jo-Dolphin te kan werk. Ons kinders met gestremdhede is vir ons ’n inspirasie en ’n goeie voorbeeld. Hul lag is aansteeklik. Elke dag is ’n nuwe avontuur en hulle lag altyd ten spyte van hul gestremdhede”.

Loubser is lid van die bestuur van Good Hope Quilters Guild en is daarvoor verantwoordelik om uit te reik en gemeenskappe te dien en kwiltwerk te bevorder. “Ek kry katoenlap geskik vir laslapwerk en enige naaldwerkhulpmiddels van medekwilters en maak dit op na die behoeftes van ’n groep. “Ons bepaal waar ’n behoefte is om mense te voorsien en sommige kere net te verras met ’n kwilt, soos die wat ons vandag by Jo-Dolphin House in Malmesbury uitgedeel het.”

“Good Hope Quilters Guild het vandag 35 kwilte geneem en dit aan die kinders uitgedeel. Wat ’n groot vreugde om te sien hoe bly en dankbaar elkeen was. Daar is dié wat moeilik praat, maar waar taal ’n gebrek was, het die lyftaal en gesiggies omtrent die praatwerk gedoen,” sê tannie Rita soos sy in die gemeenskap bekend staan.

Good Hope Quilters Guild is die sambreelorganisasie van die Wes-Kaapse kwilters. Hulle bevorder laslapwerk en kwiltwerk. “Van 5 tot 9 Oktober hou ons die 21ste Nasionale Kwiltfees by die Hoër Meisieskool Rhenish op Stellenbosch. Daar kan enigeen na die pragtige kwiltuitstalling kom kyk, asook klasse bywoon wat deur bekwame kwiltonderwysers aangebied gaan word.”

  • Vir meer inligting gaan na www.goodhopequiltersguild.org.za/festival2022 of stuur ’n e-pos na ghqg.president@gmail.com.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article