Andre Steenkamp (eerste hoofseun van Forest Heights), Joshua Kinear, Pedro Tekana (skoolhoof), Felix Gertse en Charles Hamman is hier met die oorhandiging van die projektor.

Credit: SYSTEM

Maak nie saak waarheen jy gaan in die lewe nie, jou skool bly belangrik.

Dit was die idee agter alumni van die Hoërskool Forest Heights toe hulle onlangs geld vir dié skool ingesamel het.

Carl Maarman, voorsitter van die alumni-groep, sê hulle is bewus van die uitdagings waaronder die skool gebuk gaan.

“Daar is onder meer inbrake, ’n tekort aan geld en probleme met dissipline, en daarom het ons as oudleerders besluit ons moet ’n groter rol speel. Ons het onlangs ’n geselligheid gehou waar ons R4 000 ingesamel het.

“Daarmee het ons ’n projektor gekoop wat die skool baie gaan help,” sê Maarman.

Volgens hom is dit maar net die begin van baie projekte.

“Ons het reeds ’n komitee saamgestel wat beplan aan die volgende projek. Ons gaan alle probleme geleidelik pak en ek glo as almal in dieselfde rigting trek, kan ons die skool help om sy volle potensiaal te bereik. Ons wil ons dank betuig aan almal wat ’n bydrae gemaak en belowe het om te help,” sê hy.

Forest Heights se skoolhoof, Pedro Tekana, het die oorhandigingsgeleentheid as geskiedkundig beskryf. “Met hierdie gebaar sien ons lig in die donkerte, veral met al die uitdagings wat die skool ervaar. Ons is opgewonde oor die pad wat ons vorentoe met die alumni gaan stap,” sê hy.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article