Inwoners van Oakdale, De La Haye, Shirley Park en omliggende areas het verlede week ‘n vergadering bygewoon waar hulle meer oor behuising en die kwessie van aanbouings en uitbreidings van huise kon hoor. Dewald Smit, die Stad Kaapstad se hoof van ontwikkelingsbestuur in die Tygerbergdistrik, het die groep toegespreek.FOTO: Nielen de Klerk


Gemoedere het verlede week plek-plek hoog geloop op ’n vergadering oor aanbouings by huise in areas rondom en in Oakdale, De La Haye en Shirley Park.

Die vergadering is deur Annelize van Zyl, wyksraadlid, gereël en is in die Laerskool Bellville-Noord se skoolsaal gehou.

Dewald Smit, die Stad Kaapstad se hoof van ontwikkelingsbestuur in die Tygerbergdistrik, het die groep toegespreek.

“Die meeste klagtes wat ons departement kry, is van iemand wat sê sy buurman het hom nie laat weet nie en nou bou hy (die buurman) eenhede by,” het hy gesê.

Daar is ’n paar goed wat huiseienaars in gedagte moet hou, het Smit verduidelik. Eerstens is die meeste van die huise in die gebied as enkelresidensieel gesoneer.

Smit sê in 2015 is ’n nuwe munisipale ordonnansie in Kaapstad goedgekeur wat sê as mense nuwe huise op hul erwe wil bou, hoef hulle nie hul bure te laat weet nie.

Boonop kan hulle meer as een huis bou, sonder nagevolge.

“Die nuwe wetgewing sê ’n tweede woning kan gebou word as primêre woning sonder om iemand in kennis te stel, maar ’n bouplan moet ingedien word,” het hy gesê.

Dit stop ook nie by tweede huise op erwe nie. Dit is wettig om ’n derde huis, asook ’n blyplek vir ’n huishulp, op ’n erf wat as enkelresidensieel gesoneer is, te bou en ook te verhuur.

Hierdie geboue moet egter aan mense verhuur word wat aan mekaar bloedverwant is.

Indien nie, word dit ’n losieshuis en moet dit so gehersoneer word.

Vir baie in die area was hierdie stukkie nuus ’n rede vir blydskap omdat talle huise aan studente verhuur word.

Smit het gesê dit is nie sy departement self wat sulke oortredings hanteer nie en dat dit dan ’n kwessie van die afdwing van grondgebruiksregte word.

Sy departement hanteer eerder onregmatige bouery.

Smit waarsku hulle word deesdae oorlaai en hul hande is in baie gevalle afgekap.

In hul geval is daar nie genoeg bou-inspekteurs om elke situasie noukeurig te bestudeer nie. Hulle kry tussen 250 en 350 bouplanne per maand om goed te keur.

“Ons werk op die oomblik reaktief op klagtes,” het hy gesê.

Boonop het die hooggeregshof beslis bou-inspekteurs kan nie iemand aan ’n oortreding skuldig bevind nie.

Hulle moet daarom, indien iemand skuldig is, ’n dossier saamstel wat na die landdroshof vir oorweging gestuur word.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article