As daar na die groter prentjie gekyk word, is ’n daling van 7,1% in die moordsyfer dalk nie baie nie, maar dit is ’n begin.
Bheki Cele, nasionale minister van polisie, het Vrydag die vierde kwartaal se misdaadstatistieke (Januarie tot Maart 2022) bekend gemaak.
Wat die statistieke bewys, is dat Suid-Afrika ’n baie gevaarlike plek is. Veral die Wes-Kaap is gevaarlik, met vier stasies in dié provinsie onder die top-10 vir moorde.
In TygerBurger se verspreidingsgebied is Delft en Mfuleni onderskeidelik derde en vierde.
Die Mfuleni-polisiestasie het vir die eerste keer in ’n lang ruk ’n daling in sy moordsyfer gesien. In Delft het moord met 17,4% gestyg.
Hoewel die nasionale moordsyfer met 22,2% gestyg het, was die styging in die Wes-Kaap net 12,3%.
’n Totaal van 1015 moorde is in die Wes-Kaap gepleeg, in vergelyking met 904 in die vorige kwartaal.
Reagan Allen, Wes-Kaapse minister van oorsig en gemeenskapsveiligheid, sê in ’n verklaring hy kan uit die statistieke aflei dat hulle met die ontplooiing van wetstoepassers, oftewel LEAP (Law Enforcment Advancement Plan) in die provinsie vrugte afwerp.
“Ek is seker dat ons nuwe Safety Dashboard gaan wys waarheen ons nog meer LEAP-beamptes moet stuur,” sê hy.
Lourna Frieselaar van die Mfuleni-gemeenskapspolisiëring sê enige daling in die moordsyfer word verwelkom.
“Misdaad is steeds ’n groot probleem en ’n mens kan maar net hoop die gety is besig om te draai.
“Ek glo steeds dat meer gedoen kan word en dat meer gedoen moet word. Daar is chaos in ons gemeenskappe en daar word baie gefokus op geweldsmisdade,“ sê Frieselaar.





