Voormalige en huidige lede van die SAKK het Saterdag die bring-en-braai by die Blue Downs-sportterrein bygewoon. Die meeste lede woon tans reg oor die Skiereiland heen, maar van die lede het uit Pretoria en die Noord-Kaap gereis om die geselligheid by te woon, weer oud-soldate te ontmoet en hul lewens ná hul weermagdae te deel.

Credit: SYSTEM

Die Suid-Afrikaanse Kaapse Korps (SAKK), voorheen bekend as die Suid-Afrikaanse Kleurlingkorps, vier in 2023 sy 60ste bestaansjaar.

Verskeie gesellighede word gereël om voormalige en huidige lede bymekaar te bring en hul stories te deel.

Op Saterdag 4 Junie is ’n bring-en-braai by die gholfbaan by die Blue Downs-sportterrein gehou. Sowat 30 lede het dit bygewoon.

“Die dag is begin met ’n gebed om dankie te sê vir Sy genade deur die jare, want hier het ouens opgedaag van die Noord-Kaap en Pretoria en van die manne het mekaar laas gesien toe hulle nog in uniform by die basisse in Eersterivier was.

“Daar is lekker gespot oor wie nou almal die brille- en pille-fase in hul lewens bereik het, en wie nie meer in hul uniforms kan pas nie.

“Daar was lede van SAKK-Onderhoudseenheid, 1 SAKK-Bataljon, 2 SAKK en die Kaapse Skool, soos die eenhede destyds bekend was voor almal onder die vaandel van die SA Nasionale Weermag saamgevoeg is,” sê Tienie Lott van Ravensmead, een van die organiseerders van die braai.

Volgens hom is hy en die bestuur, wat die reünie volgende jaar reël, druk besig om geldinsamelings te hou om die koste te sny, want almal wil deel wees van al die gesellighede wat gereël word.

“Saterdag se braai was deel van die vele gesellighede in die aanloop tot ons groot byeenkoms, wat van 22 tot 24 September 2023 by 9SAI Bn gaan plaasvind. Ons het ken-mekaar-gesellighede soos die bring-en-braaie, pretlope en ’n moontlike geselligheid by die Blue Downs-gholfbaan, waar ons ’n familiedag beplan, wat ook ’n bring-en-braai insluit,” sê hy.

Aangesien dit nie ’n tradisionele gholfbaan is met ’n klomp putjies nie, maar net om jou afslane te oefen, word ’n “moer-en-soek”-balkompetisie gehou om die dag ’n pretdag vir almal te maak.

“Ons hou twee groot gesellighede na die einde van die jaar toe, ’n seekosaand by die militêre basis in Wynberg en ’n langarmdans in Desember in die Parow of Elsiesrivier. Die geld wat by die twee gesellighede ingesamel word, sal gebruik word om diegene wat die reünie in 2023 wil bywoon, se onkostes te verminder. Die skenkings van borge sal ook hiermee help,” sê Lott.

“Dit was baie lekker om mede-soldate wat jy 20 jaar of langer laas gesien het, weer te ontmoet en die beste van alles was dat elkeen meer belang gestel het in wat in jou lewe ná die army gebeur het.

“Net so hier en daar is daar na jou troepiedae verwys as jy met een van jou mede-troepe gesels het, maar die opvang oor wat die afgelope 20 jaar in jou lewe gebeur het, was die lekkerste.

“Ons organiseerders het nie gedink daar sal so baie opdaag nie, maar dit was net lekker. Ons het baie lede wat nie finansieel so sterk staan nie en daar is ook van hulle wat werkloos is. Elke bydrae sal hulle ook help om deel van die vieringe te wees en ons bestuur bedank almal by voorbaat,” se hy.

Lede of organisasies wat ’n bydrae wil maak om te help om onkostes te dek, kan Tienie Lott by 082 673 1647 of Reben Riffel by 078 802 9772 bel.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article