Die plaaslike gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) sou graag wou sien dat misdaadstatistiek meer sinvol aan hulle deurgegee word.
Faizel Martin, GPF-voorsitter, sê “ondanks en ten spyte daarvan dat ons gereeld met die Kuilsrivier-polisie vergader, word die werklike statistiek nie met ons gedeel nie”.
Martin sê dit is slegs beperkte statistieke wat gedeel word – “waar die betrokke maandelikse statistiek met dieselfde maand van die vorige jaar vergelyk word.”
Hy sê die inligting wat hulle ontvang dui net per misdaadkategorie aan of daar meer of minder voorvalle, of moontlik geen verandering, was nie.
“Wat die mate van die toename of afname is, sien ons eers wanneer die kwartaallikse misdaadstatistiek bekend gemaak word.”
Martin sê as GPF is hul van mening dat die manier van terugvoering deur die polisiediens die geveg teen misdaad bemoeilik.
“Ons kan nie proaktiewe insae lewer as die werklike stand van misdaad nie met ons gedeel word nie. Die redes wat die polisiediens verskaf is dat daar ’n moratorium op die bekendmaking van misdaadsyfers is,” sê Martin.
Die polisie se misdaadsyfers vir die vierde kwartaal van die 2021/2022-boekjaar, wat die voorvalle tussen 1 Januarie en 31 Maart weergee, is onlangs deur Bheki Cele, minister van polisie, bekendgemaak.
In die eerste drie maande van die jaar is twee moorde by die Kuilsrivier-polisie aangemeld teenoor 15 moorde wat in dieselfde tydperk in 2021 aangemeld is. Die agt pogings tot moord was ook minder (teenoor 13).
Aanranding met die doel om ernstig te beseer het egter meer as verdubbeld in vergelyking met ’n jaar gelede vir die kwartaal (van 27 na 60 gevalle). Daar was ook 61 meer voorvalle van gewone aanranding (van 71 na 132 gevalle).
Gewone roof en roof met verswarende omstandighede het ’n effense daling in voorvalle getoon.
Die totale aantal kontakmisdade (misdaad teen ’n persoon) het egter sowat 25% toegeneem (van 255 tot 320 gevalle) vir die ooreenstemmende tydperk.
Daar was nege voorvalle van voertuigkapings teenoor vier in dieselfde kwartaal in 2021.
Huis- en besigheidsrooftogte het ’n effense daling getoon met sewe voorvalle (teenoor 12) by huise en agt (13) wat by ander persele aangemeld is.
Vir die eerste keer sedert 2014 het Kuilsrivier weer ’n bankrooftog beleef.
Die rooftog by Standard Bank was een van vyf bankrooftogte wat landwyd aangemeld is en almal met mekaar verbind word. Die ander rooftogte het in Elsiesrivier (2), Kleinvlei en Bellville plaasgevind.
’n Verdagte, Sinako Magi (32), wat met agt bankrooftogte tussen November laasjaar en Maart vanjaar verbind word, is op 27 Mei deur die Valke in Khayelitsha in hegtenis geneem.
Die vyf voorvalle van brandstigting wat by Kuilsrivier-polisie aangemeld is in die drie maande, is meer as die norm. Daar was ook meer voorvalle van opsetlike beskadiging van eiendom.
In vergelyking met dieselfde tydperk verlede jaar het huisbrake afgeneem (van 143 voorvalle na 88). Dis steeds meer as nie-residensiële inbrake, wat toegeneem het van 13 na 18 voorvalle.
Die 15 voorvalle van motor- of motorfiets-diefstal, asook 71 voorvalle van diefstal vanaf of vanuit voertuie wat aangemeld is, is die laagste wat vir die ooreenstemmende tydperk in vyf jaar aangemeld is. In die eerste drie maande van 2018 is 35 motors of motorfietse gesteel en 108 gevalle van diefstal vanaf of vanuit voertuie aangemeld.
Ander diefstal en kommersiële misdaad toon ’n stygende tendens.
Altesame 60 voorvalle van winkeldiefstal is in Kuilsrivier aangemeld.
Hy het uitgelig dat Suid-Afrika in 2010 met ’n bevolking van 50 miljoen mense 195 000 polisielede gehad het en tans met sowat 63 miljoen mense net 176 000 polisielede het. Nagenoeg 10 000 nuwe polisielede behoort teen einde vanjaar ontplooi te word.
’n Tekort aan respek, verdraagsaamheid en ubuntu, speel ’n rol en soms ook alkohol, sê Naidoo.
Die traumakamer by die polisiestasie is 24-uur beskikbaar. Naidoo sê daar is ook ’n geestelike misdaadvoorkomingspan gestig, wat die polisie gaan bystaan met sake van aanrandings en seksuele aanrandings.
Hy stem saam dat vertroue verdien moet word, maar voeg by: “Misdadigers en bendes val egter nie uit die lug uit nie – hulle is gemeenskapslede – seuns, dogters, pa’s, ma’s, ooms en tannies.”
Ongelukkig is daar gemeenskapslede wat weier om inligting aan die polisie te verskaf, sê Naidoo.
Naidoo sê die plaaslike polisiestasie het nuwe voertuie gekry. Daar is ook nie plaaslik so ’n situasie ondervind waar daar nie ’n voertuig beskikbaar was om op ’n klag te reageer nie, sê hy.





