Die Tygerbergse Renosterveldgemeenskap het die afgelope week ’n reeks byeenkomste gehou om Mandeladag te vier.
Belangstellendes kon betrokke raak by projekte in parke in onder meer Welgemoed, Proteavallei, Kenridge, Majik Forest, Door de Kraal en De Bron.
Die groep het vanjaar meestal vullis opgetel en onkruid uitgetrek, maar ook in Proteavallei en in Welgemoed fynbos geplant.
Renosterveld is deel van die fynbosbioom, wat die rykste bol-habitat ter wêreld is.
André Venter, ’n vrywilliger, het by ’n byeenkoms in Proteavallei verduidelik dat hulle meestal in die gebied met Swartlandskalie-renosterveld te doen kry.
Daar is tans minder as 5% van hierdie tipe renosterveld oor, omdat dit deur die jare uitgeroei is om plek te maak vir plase en later huise.
Die groep probeer nou soveel as moontlik van die fynbos bewaar en het in verskillende parke plekke geïdentifiseer wat ryk aan fynbos is.
By dié plekke het hulle klein kampies fynbos omhein en bordjies opgesit, wat versoek dat die munisipaliteit nie daardie stuk gras sny nie omdat dit ryk aan renosterveld is. Hoewel hulle toestemming daarvoor by die Stad het, vind hulle dis nodig om werkers met bordjies daaraan te herinner.
Daar gaan Saterdag van 09:00 tot 10:00 ook ’n Mandeladag-geleentheid plaasvind waarin mense kan help om vullis in Majik Forest op te tel. Skakel Monique by 082 777 5566 vir meer inligting.





