Georgia Ludski en Kayden Beswick plant hul boompies.


Die jongspan van Brackenfell Kiddies Campus het verlede week op Mandeladag ’n draai gemaak by Paradys Park-aftreeoord in Brackenfell om 67 spekboompies vir die senior burgers te plant.

Die leerdertjies het self die plant- en watergeewerk gedoen en die houertjies versier.

“Die 67 plantjies is spesiaal aan Paradys Park-aftreeoord geskenk. Die spekboompies, wat ekstra vars suurstof afgee, sal in elkeen van die eetsale en die siekeboeg geplaas word,” sê Miranda Maritz van die skool.

Maritz sê die aftreeoord lê die skool ná aan die hart.

“Dit het reeds van 1994 inwoners ingeneem. Die 56 wooneenhede en siekeboeg het tans 69 inwonende lede, van wie 18 pasiënte in die siekeboeg is,” sê sy.

“Die aftreeoord spog tans met ’n 0%-Covidsyfer sedert Covid-19 uitgebreek het. Dit is voorwaar ’n seldsame prestasie.”

Skenkings van onder meer toiletware wat deur die siekeboeg benodig word, lekkergoed en kolwyntjies vir teetyd, wat deur die ouers van die skool ingesamel is, is aan Hettie van der Westhuizen, verpleegsuster, en Jaap Smit by die aftreeoord oorhandig.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article