Die woede by inwoners van Durbanville oor die straatmense wat in tente in Baxterstraat woon, en laasgenoemde se dreigemente om mense “te steek” wat hulle konfronteer, het verlede week oorgekook.
Een van die tentbewoners is in hegtenis geneem nadat hy na bewering verlede Dinsdagmiddag op ’n man gevloek en ’n klip na sy motor gegooi het.
Daar was ook na bewering ’n voorval verlede Woensdagaand waarin twee mans, wat vermoedelik van ’n kuierplek oorkant die pad gekom het, ’n tent beskadig het.
TygerBurger het ook talle e-posse ontvang van inwoners wat kla oor die gedrag van die tentbewoners ná berigte oor mense se irritasie en waarskuwings om nie die tentbewoners te konfronteer nie.
Volgens ’n man, ’n nuwe intrekker in Durbanville, het hy verlede Dinsdag omstreeks 16:40 met sy motor by die bushalte in Durbanville-rylaan stilgehou om foto’s van die tente te neem. Hy wou dit aanstuur vir die Blomtuin-gemeenskapsgroep, waarby hy lank betrokke was, sê hy.
Hy het ’n man naby hom hoor praat. Die man het op hom gevloek en vir hom geskree: “Jou ma se p…s!”,”F…k jou!” en “Jou n…!”
Die man het na bewering ’n klip na hom gegooi en dit het sy motor getref. Die man het daarna op hom afgestorm en hom met geweld gedreig. Hy het sy kar se een deur oopgemaak en toegeslaan en dreigende armbewegings gemaak, sê hy.
Volgens die klaer het hy hom gevra om opsy te staan, waarop die tentbewoner hom gevra het van waar hy is. “Ek het sommer gesê ek is van TygerBurger, waarop die man gesê het ‘hul p…s man!’ Ek was reeds so angstig dat ek aan die eerste, kortste antwoord gedink het,” vertel hy.
“My lewe is bedreig en my eiendom is beskadig. Ek is so gedreig dat ek later lendelam van skok geraak het,” sê hy.
Hy het ’n klag van crimen injuria, beskadiging van eiendom en intimidasie by die Durbanville-polisie aanhangig gemaak, waarna die man opgespoor, uitgeken en in hegtenis geneem is.
Die beskuldigde, Morné Cupido (22), het verlede Donderdag in die Bellville-landdroshof verskyn. Hy is op waarskuwing vrygelaat en die saak is tot 6 September uitgestel.
Pa en seun
Verlede Woensdagaand het twee mans, vermoedelik ’n pa en sy seun, glo van ’n kuierplek gekom en een van die tente geskop en beskadig.
Volgens ’n woordvoerder van MES Durbanville het die pa glo aan sy seun gesê hy wil hom wys “hoe om sulke mense te behandel”.
“Die tentbewoner het gedreig om die mans met ’n mes te steek, maar gelukkig het wetstoepassingsbeamptes daar aangekom, wat hulle gekeer en aangeraai het om liewer ’n klag by die polisie aanhangig te maak,” sê hy.
Volgens hom het ’n polisievoertuig aangery gekom en het die mans in hul voertuig geklim en weggery. Hul voertuigregistrasienommer is bekom en die tentbewoner het ’n klag van opsetlike saakbeskadiging aanhangig gemaak.
Urineer
TygerBurger het talle briewe ontvang van ontstoke inwoners.
’n Ma sê sy bly daar naby en haar jong dogters moes al meer as een keer aanskou hoe van die tentbewoners reg voor hulle urineer.
“Ons kan nie eens gaan stap nie, en as ons by ons erf uitry, kyk ons in die gemors vas. Ons kan ook nie ons vensters of deure oopmaak nie, want hul vure se rook trek in ons huise in,” sê sy.
Friends of Durbanville hou op Maandag 15 Augustus om 18:00 ’n vergadering oor straatmense in die NG kerk Stellenberg se saal.
’n Prokureur met kennis van die Wet op die Voorkoming van Onwettige Uitsetting en Onregmatige Besetting van Grond (Pie Act) sal die wetlike aspekte rondom die verwydering van straatmense verduidelik.





