Inwoners van Ysterplaat sal binnekort baat vind by die gemeenskapstuin wat by die Ysterplaat NG kerk aangelê gaan word.

Die kerk was in die grendeltyd die middelpunt vir die verspreiding van kos aan die omliggende gemeenskap.

“In daardie tyd het die plaaslike raadslid, Fabian Ah-Singh, die parkie in Ysterplaat skoongemaak en ’n gedeelte is toe afgebaken vir ’n groentetuin. Ons het toe bevriend geraak en ek het aangebied dat die kerk die groentetuin in stand sal hou.

“Ons het ’n nasorgsentrum by die kerk en die idee is dat die kinders sal help om te plant, onkruid uit te roei en na die tuin om te sien,” sê ds. Scherlize van der Merwe, predikant van die NG kerk Ysterplaat.

Volgens haar kan inwoners van die gemeenskap ook kom help met die plant en versorging van die groentetuin saam met die kinders.

“Die idee is dat as jy kom help, jy ook voordeel kan trek uit die groente wat geoes word, want die een hand was die ander en die groentetuin is daar vir die gemeenskap,”sê Van der Merwe.

“Jy moet onthou dis ’n nuwe projek by die kerk en ons weet nog nie wie almal by die groentetuin betrokke gaan wees nie. Tans is dit net Ah-Singh en die kerk, want hy het onlangs harke, grawe en ander tuinbenodigdhede geskenk om die projek aan die gang te sit,” sê Van der Merwe.

Die grond is lanklaas bewerk en baie harde arbeid sal verrig moet word om die grond reg te kry voor enigiets geplant kan word.

Baie kompos word benodig om die grond te bemes en eers dan sal die saad, saailinge of groentesteggies geplant kan word.

“Ons het ook die naweek van 6 Augustus ’n uitreikprogram gehou in Calitzdorp waarheen 20 jongmense ons vergesel het.

“Die uitreik was om die jeug aan ’n ander kultuur en gemeenskap bloot te stel. Dit was nie ons eerste uitreik na Calitzdorp nie; ons was al voorheen daar en gaan kuier by die skole, kerke en veral die gemeenskappe in en om Calitzdorp. Ons gaan uit om verhoudings met almal te bou, speel en kook met oud en jonk en deel die Woord van die Here met almal daar. Ons het ’n skryfbehoeftepakkie aan die leerders en ’n bederfpakkie aan die senior burgers in die ouetehuis uitgedeel,” sê sy.

Die bewerking van die groentetuin sal in September in volle gang wees, want dis nog reënweer en die bewerking van die grond sal nie nou goed werk nie, meen sy.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article