Die misdaadstatistieke is verlede week bekendgemaak.

Verskaf Credit: Ane van Zyl

Die polisie het verlede week misdaadstatistieke bekend gemaak.

In Delft is 62 moorde van April tot Junie vanjaar aangemeld – dit is ’n een persent daling, maar steeds tel Delft onder die gevaarlikste plekke in die land.

Van al die stasies landwyd, word die vierde meeste moorde in Delft gepleeg.

In Mfuleni het moord met meer as 25% afgeneem en is slegs 40 gevalle aangemeld.

Delft is ook onder die voorste drie stasies vir beide seksuele aanrandings en verkragtings.

Oor die algemeen het moord in die metropool met 8,2% afgeneem en Reagan Allen, Wes-Kaapse minister van gemeenskapsveiligheid, skryf die afname toe aan die teenwoordigheid van LEAP (Law Enforcement Advancement Plan)-beamptes in van die gebiede.

LEAP-beamptes is in onder meer Bishop Lavis (-9,1%), Delft (-1,6%) en Mfuleni (-25,9%) ontplooi.

“Die afname bewys dat die Wes-Kaapse regering die bestuur van die polisie moet oorneem,” sê Allen in ’n verklaring.

Hoewel hy bly is vir die afname, is daar steeds 994 moorde in die provinsie gepleeg.

“Een moord is een te veel. Ons moet ons geveg teen misdaad verskerp,” sê hy.

Past. Charles George, woordvoerder vir Delft-gemeenskapspolisiëringsforum, sê statistieke beteken niks vir families wat geliefdes aan die dood afstaan nie.

“Die verlies van ’n regte lewe kan nie in persentasiepunte gemeet word nie. Wat vir ons ’n statistiek is, is vir ander mense ’n regte broer, suster, niggie of kind.

“Vertel vir daai moeder, wat twee weke gelede haar dogter verloor het, dat daar ’n daling in moorde was en jy sal sien dat dit niks vertroosting vir haar gaan bring nie,” sê hy.

Volgens George kan die polisie hom op niks roem nie. “Die hoeveelheid mense wat in hierdie geweste sterf, is nie normaal vir ’n beskaafde samelewing nie.

Dit is heeltemal abnormaal en geen statistieke sal dit verander nie,” sê hy.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article