Janica Louw (23) is ’n finalis in die Mej. Dowe SA-kompetisie. Die geleentheid word hierdie naweek in Durban aangebied.


Janica Louw (23) gaan binnekort Parow-Noord se naam hoog hou wanneer sy op Saterdag 3 September aan die Mej. Dowe Suid-Afrika-skoonheidskompetisie gaan deelneem.

“Ek het in gr. 7 bewus geraak van die kompetisie en gewag vir die regte tyd om deel te neem. Ek wil ander dowes inspireer en selfvertroue gee, en wys dat mense hul drome kan bewaarheid,” sê Janica.

Die kompetisie word by The Playhouse in Durban in KwaZulu-Natal gehou.

“Ek is nog altyd deel van twee wêrelde, naamlik die horende en dowe wêreld, omdat my pa doof is en my ma kan hoor.

“Vandat ek Pretoria toe gevlieg het om die finalis-werksessie by te woon, het die dowe wêreld om my vergroot en ek het soveel nuwe mense ontmoet. Ek het meer selfvertroue gekry. Dis ’n eer om ’n finalis te wees en om so ver te vorder.”

Janica sê sy wil deur middel van die kompetisie, en as sy sou wen, ’n goeie ambassadeur vir die dowe gemeenskap wees.

Uitdagings

Oor die uitdagings wat dowes en mense met gehoorprobleme daagliks ervaar, het sy só gereageer: “Alledaagse uitdagings is kommunikasie waar horende mense nie weet hoe om te kommunikeer nie of te bang is om te vra hoe om te kommunikeer.

Sodra jy iemand vertel jy is doof en vra om na jou te kyk en stadiger en duideliker te praat, is kommunikasie moontlik.

“As iemand agter jou begin praat sonder dat jy daarvan bewus is, dan neem hulle aan jy wil nie terugpraat nie of is ongeskik.”

Janica het modeontwerp aan die Kaapse Skiereiland Universiteit van Tegnologie gestudeer en het verlede jaar graad gevang.

“Ek het my eie klerereeks begin en maak spesiale uitrustings vir kliënte.”

Oor haar toekomsplanne is sy ook vol selfvertroue.

“My toekomsplanne is om my handelsnaam uit te brei en uitrustings te maak om vroue spesiaal te laat voel,” sê Janica.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article