Dis Saterdagoggend en die opgewondenheid van die jaarlikse basaar hang in die lug.
Die strydbyle is begrawe oor wie watter tafel gaan dek; al word daar nog onderlangs vir mekaar geloer.
Maar basaardag het aangebreek en almal is opgewonde oor alles wat gaan gebeur.
Soos iets uit ’n 90’s fliek, of iets wat ons almal al ervaar het.
Dít is hoe die atmosfeer by Goodwood Jubileum Gedenktehuis, wat op 3 September basaar gehou het, beskryf kan word.
Hierdie basaar het om 09:00 by die Protea-tehuis te Alicestraat 127 begin.
Daar was heerlike worsrolletjies, hamburgers, poedings, tuisgebak, lekkers, koeke, kerrie-en-rys, vetkoeke en soveel meer te koop.
Volgens André Verster, bestuurder van die tehuis, het hulle in almal se behoeftes voorsien.
Geloof, hoop en liefde
Die tehuis se basaar vorm deel van hul jaarlikse aktiewe verouderingsprogram om maksimale betrokkenheid van inwoners en hul gesinne te probeer verseker.
“Dit is vir ons almal ’n basaar wat gebaseer is op geloof, hoop en liefde.
“Geloof, omdat ons glo dat die basaar baie suksesvol sal wees; hoop dat al ons inwoners, hul familielede en ons gemeenskap dit as ’n verrykende ervaring sal ervaar, en dat ons liefde vir mekaar ons gemeenskap sal verenig in ons strewe tot gehaltedienslewering.”
Gehalteprodukte
Aangesien hierdie ’n niewinsgewende organisasie is, het hulle die ondersteuning van die gemeenskap baie nodig.
Volgens Verster dra hul spyseniers en verskaffers ook baie by tot die sukses van die basaar deur skenkings van kontant en produkte.
“Ons het vanjaar agt lang tafels gehad wat die 16 mees gesogte basaarprodukte aangebied het.
“Die meeste produkte is ook vars, voor en tydens die basaar voorberei,” sê Venter.
Daar was ook heelwat goeie musiek.
“Ons is uiters dankbaar dat ons gemeenskap, verskaffers, families, inwoners en personeel die basaar so mooi ondersteun en tot die sukses van ’n baie aangename en vreugdevolle basaar bygedra het.
“Ons sien uit na die volgende basaar op Saterdag, 2 September volgende jaar,” sê hy.





