Leigh-Anne Hill skrywer van die boek

Credit: SYSTEM

Die Goodwood-inwoner en skrywer Leigh-Anne Hill het TygerBurger meer oor haar derde boek, Slaptjips en snoek, vertel wat eersdaags bekendgestel word.

Hierdie boek het volgens Hill as ’n grappie tussen haar en haar man, John Louis Hill, ontstaan.

“Ek is totaal en al versot op slaptjips en snoek en my man weer nie, hy eet dit glad nie,” vertel Hill.

Haar man is in Vryheid gebore en het in Leondale grootgeword. Hulle het later Alberton toe getrek waar die twee ontmoet het.

“Hy is uit en uit ’n ou Vaalpensie,” sê Hill.

Hulle was in Julie vanjaar 12 jaar getroud. Hill vertel hoe haar man na twee maande van blitsige romanse in die kombuis op sy knie gegaan en haar gevra het om te trou en sewe maande daarna het hulle die knoop deurgehak.

Dit inspireer toe haar storie.

Elke huwelik verg harde werk, toewyding en deursettingsvermoë. Liefde oorkom alles, maar daar moet ook wedersydse respek, vertroue, kommunikasie, eerlikheid en vele ander dinge wees om dit te laat werk, vertel Hill.

’n Baie belangrike aspek van enige huwelik is gesonde seks.

Hill is van mening as ’n man of vrou dit nie tuis kry nie sal hy of sy dit elders gaan soek en andersom.

Leigh-Anne Hill se derde boek wat eersdaags bekend gestel gaan word.FOTO: Verskaf

“Jy wil nie hê jou man of vrou moet op ’n ander plek gaan uiteet nie. Hou jou man, so ook jou vrou, in alle areas van jul huwelik gelukkig en geïnteresseerd. ’n Driepootpot sonder al sy bene gaan nie bly staan nie.”

Die onderwerp was altyd taboe in die ou tyd en is steeds iets wat ons vandag as persoonlik beskou.

Volgens Hill was dit boeiend en interessant om oor hierdie onderwerp te kon skryf omdat dit sulke omstrede kwessies bevat.

“Ek glo baie huwelike sal by my nuwe boek kan baat vind.

“Al drie my boeke is Christelike boeke. Die derde boek kan ook deur voorhuwelikse paartjies gelees word. My huwelik is baie spesiaal vir my en Jesus het my man vir my gegee. Ek wil graag paartjies help om ‘n gesonde huwelik en sekslewe te hê.”

Hill is tans besig met die bekendstelling van die boek.

  • Hou Hill se webtuiste, www.leighannehill.co.za, en Facebook-blad dop vir meer inligting oor die bekendstelling.
  • Kontak Leigh-Ann Hill by 066 206 4208 of 076 748 1615 om die boek te koop.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article