Die Protea-skyfskietspan, wat aan die wêreldkampioenskap in Europa in beide die langafstand- en kortafstandafdelings deelgeneem het, het in Augustus met drie wêreldkampioenskapstatusse teruggekeer huis toe.
Hulle is op 5 September op die wynplaas Nitida deur Anroux Marais, Wes-Kaapse minister van sport en kultuur, asook Ronel Viljoen, raadslid vir Wyk 70, vir hul prestasies vereer.
Die Muzzle Loaders Associations International Confederation (MLAIC), waarvan 28 lande (insluitend Suid-Afrika) lid is, het beide die lang- asook kortafstand-skyfskietwêreldkampioenskap gehou nadat die byeenkoms vir twee jaar weens die Covid-19-pandemie gestaak is.
Gaste en eregaste, insluitend die drie wêreldkampioenne van die Proteaskyfskietspan – Johan de Beer van Stellenberg, Pieter Truter van Langebergrif asook Corena de Beer, ook van Stellenberg – is deur Marais verwelkom, waarna Viljoen die seremonie geopen het.
Johan, die kaptein en skut van die langafstandspan, was tweede aan die beurt, en het die gaste meegevoer met staaltjies van hul tyd in Europa en verduidelik hoe die Proteaspan in hoë temperature van 08:00 tot 17:00 teen die wêreld se beste skuts moes meeding.
Uitslae
Die Protea-skyfskietspan het met altesaam ses skuts gereis, van wie drie lede – Johan de Beer en Truter en Corena de Beer – in Hongarye in die langafstandafdeling deelgeneem het.
Johan en Corena het wêreldkampioenskapstatus in hierdie afdeling bereik.
“Corena is as die algehele wêreldkampioen in die vroue-afdeling vir die langafstandkategorie van 300 tot 1 000 treë aangewys,” het Johan verduidelik.
Johan is op sy beurt aangewys as die algehele langafstandkampioen van 900 tot 1 000 treë, asook die algehele wenner met wêreldkampioenskapstatus in 300 tot 1 000 treë in die langafstandafdeling, met Corena in die tweede plek in die ope klas, het Corena gesê.
In die kortafstandkompetisie in Duitsland het die Proteaskyfskietspan ses lede – Johan, Corena, Pieter Truter, Greg van Schaik, Cliffie Brin en Grant Gammon – ingeskryf, sê Corena.
Truter het wêreldkampioenskapstatus behaal in die middelafstand met 300 tot 600 treë – ook in Hongarye – behaal, sê Johan.
Wat hierdie wêreldkampioenskap nóg meer uitdagend gemaak het, is dat die langafstandspan een skut te min gehad en met net drie skuts meegeding het.
“[Skyfskiet]spanne is altyd vier, en ons [Proteaspan] moes met drie [skuts] skiet. Dit het beteken dat net ek [Johan], Corena en Truter se tellings opgetel kon word, dus was ons drie se tellings teen ander lande se vier tellings in spanne,” het Johan verduidelik, wat aangedui het dat die Proteaspan net ’n tekort aan “ ’n paar punte” vir spanmedaljes gehad het.
Die Proteaskyfskietspan oefen pligsgetrou elke naweek op die Atlantis- militêre skietbaan, of by Durbanville en Bellville se pistoolklub, waar hulle na teikens in die verskillende afstande skiet.
Al drie Proteaskyfskietlede wat wêreldkampioenskapstatus behaal het, is al ’n geruime tyd lid van die Protea-skyfskietspan, en deel ’n liefde wat van kinderdae gekweek is.





