Beurtkrag geld nou al reeds ‘n maand lank ononderbroke. Foto ter illustrasie.


Groot kommer heers in arm gemeenskappe dat beurtkrag hulle verder verarm.

So sê pastoor Charles George, ’n gemeenskaps- en sakeleier van Delft.

“Ek het die laaste ruk met hartseer verneem van verskeie kleiner sakeondernemings wat hul deure moes sluit omdat hulle nie meer kan bekostig om oop te bly nie. Sommige het probeer om elektrisiteit met kragopwekkers aan die gang te hou, maar die brandstof is te duur,” sê George.

Suid-Afrika gaan die laaste ruk gebuk onder die langste beurtkrag in die geskiedenis van die land. Volgens die gewilde beurtkrag-toepassing, “Eskom se Push”, het die land teen gister reeds 1978 ure, oftewel 82 dae, se beurtkrag ervaar. Geen einde is egter nog in sig nie weens verskeie kragstasies wat buitewerking is. Dit blyk ook uit berigte in die media dat grootskaalse sabotasie die nasionale kragvoorsiener, Eskom, lam lê.

George sê hoewel sy gemeenskap veerkragtig is en al baie aanslae oorleef het, het die lang duur van die beurtkrag baie ondernemings geknak.

“Kleiner ondernemings het nie die kapitaal, soos groot ondernemings, om hulle te beskerm nie. Gestel iemand wat braaihoender in Delft se hoofstraat verkoop, se yskas is af – al daardie handelaar se produkte bederf dan. Dit beteken sy kan nie ’n inkomste genereer nie, haar kinders kan nie eet nie en haar onderneming is verwoes. Groter handelaars het versekering vir wanneer hul voorraad só verwoes word – nie die klein handelaar op die sypaadjie nie. Dit lei tot volwasse mense wat huil, want ondernemings wat hulle met moeite opgebou het, is besig om ten gronde te gaan.

“In ’n verarmde gemeenskap soos hier by ons, wat reeds onder bendegeweld en ander sosio-ekonomiese probleme gebuk gaan, is beurtkrag dodelik.

“Wanneer die krag af is, styg die misdaad. Openbare infrastruktuur word verwoes en mense word vermoor en verkrag.

“Beurtkrag het ’n direkte inpak op die lewe van gewone mense. Mense gaan dood weens beurtkrag,” sê George.

Eskom het Sondag in ’n mediaverklaring laat weet dat fase 3-beurtkrag ten minste nog tot Donderdag sal aanhou.

“Die voortgesette beurtkrag is nodig weens ’n tekort aan opwekkingskapasiteit. Eskom vra om verskoning vir die beurtkrag,” lui die verklaring.

Nuwe inligting gaan glo in die volgende dae bekend gemaak word, lui die verklaring verder.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article