’n Jong vrou het vanoggend vroeg aan haar wonde beswyk nadat sy deur ’n beweerde dronkbestuurder in Bonteheuwel raakgery is.
Die 18-jarige Tatum Hendricks is vanoggend omstreeks 02:00 dood verklaar nadat sy gister tot op die dak van ’n huis geslinger is nadat sy deur ’n motor raakgery is.
Volgens die plaaslike raadslid, Angus McKenzie, het ’n jongman sonder ’n rybewys sy pa se motor geneem en roekeloos die strate ingevaar. Hy was glo ook onder die invloed.
“In Soetdoringstraat het hy glo teen ’n hek vasgejaag, waarna die motor met hoë revolusies straataf gejaag het. Hy het beheer oor die voertuig verloor, eers ’n ander man en toe vir Tatum getref.
Die impak waarmee Tatum getref is, het veroorsaak dat sy op die dak van ’n huis beland het,” sê McKenzie.
Volgens McKenzie het ’n paramedikus, wat van diens af was, probeer om Tatum by te bring, maar sy pogings was onsuksesvol. “Sy en die ander voetganger is na die hospitaal vervoer waar sy ongelukkig aan haar wonde beswyk het.
Ons betuig ons simpatie met die bedroefde familie,” sê McKenzie.Hy sê die roekelose en lewensgevaarlike daad van die bestuurder, wat uit die motor gesny moes word, word ten sterkste veroordeel.
“Hy kan nie ongestraf bly nie, want sy gedrag het vir die familie en die gemeenskap groot pyn veroorsaak,” sê hy.
Die Bishop Lavis-polisie sal later in die dag kommentaar lewer en dit sal bygewerk word.





