Die verbreding van Amandelweg vanaf die brug oor die Bottelaryrivier tot by Kerkstraat gaan binnekort begin.
Die Stad Kaapstad kan nog nie ’n presiese aanvangsdatum bevestig nie, maar volgens Roberto Quintas, burgemeesterskomiteelid vir stedelike mobiliteit, behoort die padwerk in Oktober of November te begin.
Na verwagting sal die projek 20 maande neem om te voltooi, as alles volgens plan verloop.
Dié gedeelte van Amandelweg gaan verbreed word na ’n dubbelbaan, soos wat reeds die geval is met die gedeelte van die pad tussen Bottelaryweg tot kort voor die Bottelaryrivierbrug – wat motoriste tans in spitstydverkeer dalk eerder die ‘‘Bottelnek-brug’’ sal noem.
Die hoofdoel van die verandering van die pad na vier bane (twee in elke rigting) is om die verkeersdruk te verminder.
Volgens Quintas sal die projek sowat R40 miljoen kos.
Die beplande werk sluit in:
- Konstruksie van ’n tweede baan oor die rivier – parallel met die bestaande brug oor die Bottelaryrivier (verbreding van die huidige brug);
- Die bou van ’n nuwe brug oor die Bottelaryrivier;
- Verlenging van die bestaande dubbelbaan noord van die rivier tot suid van Kerkstraat;
- Opknap van verkeerstekens by die kruising met Sandalwood-weg, asook die omskakeling van die robotkruising by Kerkstraat na ’n dubbelbaan-sirkel;
- Die voorgestelde brugstruktuur sal in die bestaande Amandelweg-padreserwe opgerig word, wes van die bestaande brug;
- ’n Fietsbaan van drie meter wyd vanaf die sirkel by Langverwachtpad tot by die Soneike-sentrum;
- Die oprig van straatligte.
Luidens ’n kennisgewing van die Stad sal die verkeer in beide rigtings deur die padwerke geraak word. Personeel met vlae gaan die verkeer met tydelike ompaaie herlei. Inwoners kan ’n mate van geraasbesoedeling tydens die konstruksie-tydperk te wagte wees. Daar word gemaan dat voertuie wat in die straat parkeer word en die werk belemmer, verskuif of weggesleep kan word.
Padgebruikers word aangeraai om versigtig te wees terwyl die werk aan die gang is.
“Ry stadiger en let op na die padtekens. Wees waaksaam in en om die padwerke en bedag daarop dat die padoppervlak ongelyk mag wees. Neem die konstruksiewerkers in ag en maak voorsiening vir ’n langer reistyd.”
Wouter de Vos, wyksraadslid, sê as daar nou een ding is waaroor daar gereeld in Kuilsrivier gekla word, is dit die verkeer. “Ek is baie opgewonde oor hierdie ontwikkeling vir ons dorp.”
TygerBurger het al verskeie kere berig oor die tuine wat deur inwoners langs Amandelweg geskep is oor die laaste twee jaar.
De Vos sê hy het dadelik, nadat hy verneem het dat konstruksie binnekort gaan begin, die vroue wat betrokke is by die tuine, asook verteenwoordigers van die Stad, byeen gekry sodat almal kan weet wat gaan gebeur.
“Ek het gevoel goeie kommunikasie is noodsaaklik. Almal is tevrede. Die impak op die bestaande tuine gaan minimaal wees.”
De Vos sê hy het ’n versoek gerig dat die vroue op hoogte gehou word sodat insette gelewer kan word en ’n plan gemaak kan word met die tuintjies wat deur die konstruksie geraak sal word.
“Ek het ongelooflike waardering vir die werk wat die dames gedoen het ter wille van die dorp, en ’n mens moet dit respekteer,” sê hy.
De Vos vra dat inwoners die langtermyngevolge van die projek in die oog sal hou, en geduldig moet wees terwyl die padwerke aan die gang is.
Daar is tans ook padwerke op die Bottelarypad naby die kruising met Saxdownweg.
Quintas sê dit is om bykomende bane op die Bottelarypad te skep.
Dié projek sal na verwagting sowat agt maande duur en behoort, as alles volgens plan verloop, teen April volgende jaar afgehandel te wees, sê hy.
Skakel die Stad se Vervoer-inligtingsentrum (tolvry) by 0800 65 64 63 of stuur ’n e-pos na transport.info@capetown.gov.za met navrae.





