Kerkgangers in Bonteheuwel het Sondag die skok van hul lewens gekry toe hulle by die kerk kom en vind die hele gebou is gevandaliseer.
Die Evangelical Bible Church is so verwoes dat die vloer oorspoel was toe gemeentelede opdaag. Elektriese drade, koperpype en enigiets van waarde is uit die kerk gesteel.
Yulene Galand, woordvoerder van die gemeente, sê sy en haar man het Sondagoggend die kerk gaan oopsluit.
“Toe my man die groot voordeure oopmaak, is ons met water begroet. Daar was so baie water dat dit tot by ons enkels gekom het,” sê Galand.
Volgens Galand het sy en haar man hul skoene uitgetrek en deur die water dieper die kerk inbeweeg. Niks kon hulle voorberei vir wat hulle gevind het nie.
“Al die toilette en die handewasbak was stukkend, en al die krane is verwyder.
“Die yskas het ook op sy sy gelê en al die drade is verwyder. Die inbrekers het ook ons gasstoof met bottel en al gesteel. Ons wonder nog hoe hulle dit deur die venster gekry het,” sê Galand.
Die inbrekers het ook die plafon, die kragboks, kasdeure en ander infrastruktuur beskadig. “Op die verhoog van die kerk is ’n bad waarin ons mense doop. Omdat dit op die oomblik leeg is, stoor ons instrumente daarin en bedek dit met planke en ’n mat. Ek weet nie hoe die boewe geweet het die instrumente is daarin nie, maar hulle het die planke gebreek en alles gesteel wat daarin was.
“Dit is ook nie die eerste keer dat ons onder vandale deurloop nie. Hulle het in die verlede by twee geleenthede diep slote gegrawe en al die ondergrondse kabels gesteel. Dit is egter die eerste keer dat hulle tot binne-in die kerk vorder,” sê Galand.
Sy sê die hele gedoente laat hulle baie moedeloos en daar is selfs mense wat aanbied om die kerk te koop, maar hulle sal voortgaan in geloof. “Ons sal nie ons kerk opgee nie. Dit is moeilik, want die skade blyk meer as R200 000 te wees. Ons sal weer opstaan,” sê sy.
Die polisie het by monde van sy woordvoerder, sers. Samantha Adonis, gesê vyf verdagtes tussen die ouderdomme van 23 en 47 is weens die besit van vermoedelik gesteelde goedere in hegtenis geneem. “Hulle is in besit van die kerk se eiendom betrap,” sê Adonis.





