AfriForum se Kraaifontein-tak het op Erfenisdag (24 September) moue opgerol om saam met inwoners en ’n private kontrakteur ’n openbare park in Kraaifontein skoon te maak.
Die gras is gesny, bome gesnoei en vullis is verwyder in die speelparkie in Darwinstraat, Windsor Park.
Eswill Mouton, omgewingsakebeampte van AfriForum se Kraaifontein-tak, het aan TygerBurger gesê die park het sleg gelyk.
“Die gras was lank en die bome se takke het baie laag gehang en het ’n goeie snoei nodig gehad. Die park was ook baie vuil.
“Die Kraaifontein-tak het dit goedgedink om self verantwoordelikheid te neem en die park skoon en netjies te maak,” sê hy.
“Daar is ook 50 spekbome aan inwoners rondom die park geskenk om te plant om ’n skoner omgewing vir die inwoners te skep en terselfdertyd te help dat die woonbuurt nie verder agteruitgaan nie,” sê hy.
Mouton sê spekbome is die doeltreffendste plant om koolstofdioksied in suurstof om te skakel.
“Ons besoedel die aarde en kort plante soos hierdie om dit teen te werk.”
Hy moedig die Kraaifontein-gemeenskap aan om by dié AfriForum-tak betrokke te raak om sodoende ’n daadwerklike verskil in hul gemeenskap te maak.





