Die verbetering van veiligheid en sekuriteit, verkeersopeenhopings, riool en haweloosheid was van die kwessies wat deur inwoners aangeroer is in ’n onlangse openbaredeelnamegesprek in Wyk 8 met betrekking tot die beplanning van die 2023-2024-begroting van Stad Kaapstad, wat nou in aanvang is.
Inwoners was dit eens dat toegang tot die N1 tydens spitsverkeer ’n groot behoefte is.
Ook kommerwekkend is die wetteloosheid van taxi’s, wat tans op onwettige roetes deur die wyk ry en stop.
Een inwoner het dié wetteloosheid aan ’n tekort aan sigbare polisiëring op die paaie toegeskryf.
Marian Nieuwoudt, wyksraadslid, sê die kwessie van veral die onwettige taxi-staanplekke moet dringend opgelos word. Die nuwe voorgestelde roetes is egter deur die wyk teengestaan.
“Ons moet die taxiprobleem oplos, maar ek weet nie hoe nie. Daar is groot behoefte aan openbare vervoer na werksplekke in die wyk,” het Nieuwoudt gesê.
Ook die misdadigers onder die talle haweloses, veral by die Brackenfell-stasie en in dele van Kuilsrivier het onder die loep gekom. “Baie van die haweloses in die area is misdadigers of bendelede wat uit die tronk op parool vrygelaat en te bang is om huis toe te gaan. Hulle slaan enige plek tent op sonder enige gevolge, en strukture word nie afgebreek nie. Intussen moet inwoners opdok weens misdadigers wat net meer word sonder enige wetstoepassing,” het ’n inwoner, wat nie sy naam genoem wil hê nie, gesê.
Volgens dié inwoner is dwelmgebruik volop onder haweloses en word die maatskaplike euwels nie behoorlik aangepak nie.
Nieuwoudt sê onwettige grondbesit en haweloses is van die vele probleme in die wyk, maar daar moet besin word oor waar die Stad die meeste geld moet spandeer.
“Die probleem is ’n mens weet nie of baie van die mense werklik haweloos is nie. Mense is bekommerd oor die situasie, maar as inwoners moet kies tussen dienste, wat sal dit wees – basiese dienste en infrastruktuur of die bekamping van haweloses?
“En wat onwettighede by die Brackenfell-stasie betref, moet gekyk word na die afdwing van alle stadsverordeninge,” sê Nieuwoudt. Ander behoeftes in die wyk wat dringend in die volgende begroting aangepak moet word, is nuwe rioolpype in Ferndale, die vervanging van waterpype in De Oude Spruit, die opknap van Ou Paarlweg, Kruispad en Bottelary-pad.
Nieuwoudt sê die insette wat deur inwoners gelewer is, sal nou saamgestel word en na die lyndepartemente gestuur word vir hul insette voordat dit aan die burgemeester voorgelê word.
“Wat vir my prominent was, is dat die meeste inwoners nie buitensporige verwagtinge het nie.
“Ek dink mense is realisties oor wat die Stad doen vir hulle en nie kan doen nie,” sê sy.
Wyk 8 van die Stad sluit in Brackenfell-Sentraal en -Suid, Haasendal, Proteahoogte, Sonkring, Annandale en Soneike 1.





