’n Seun van 16 jaar is Donderdag by die Brackenfell-stasie deur twee mans van sy selfoon en skoene beroof.

“Hy het van Ou Paarlpad se kant af oor die stasiebrug gestap op pad na sy pa se huis toe, toe twee mans hom voorgekeer en met ’n mes gedreig het,” sê Kobus Kotze van Titanium Securitas.

Kort ná die roof, omstreeks 19:45, het die getraumatiseerde seun hom na Titanium Securitas se kantore gehaas vir hulp.

Die private sekerheidsmaatskappy se misdaadvoorkomingseenheid en gewapendereaksie-eenheid het dadelik die gebied rondom die stasie begin fynkam en al twee verdagtes is kort voor lank opgespoor.

Die twee mans het probeer weghardloop, maar is aangekeer en die skoene en selfoon is in hul besit gevind.

Die seun is na sy ouerhuis geneem nadat ’n saak by die Brackenfell-polisie aanhangig gemaak is.

Die twee mans is in hegtenis geneem en in Brackenfell-polisie se selle aangehou tot en met hul hofverskyning.

Die polisie kon nie vir kommentaar bereik word nie.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article