’n Dowe krieketspeler (19) van Pinehurst in Durbanville, wat vanjaar ook vereer is as die Westelike Provinsie se Dowe Speler van die Jaar, is vir die SA Dowekrieket-span gekies.
Ruan du Plessis, wat sedert September vir die Goodwood-krieketklub in die nuwe krieketseisoen speel, is die jongste speler nóg wat dié eer te beurt val.
Dit is ook die tweede agtereenvolgende jaar dat hy die uitsonderlike prestasie behaal om as die WP se Dowe Speler van die Jaar aangewys te word.
Kriekettande
Hy het die toekenning in September by die WP-Krieketunie se jaarlikse toekenningseremonie by die Nuweland-stadion ontvang.
Ruan, wat 64%-gehoorverlies in albei ore het, het sy kriekettande by die Durbanville-krieketklub geslyp. Hy het junior klubkrieket op agtjarige ouderdom begin speel, en senior klubkrieket sedert hy 15 jaar oud was.
Hy het ook by die klub se mees onlangse prysuitdeling die trofee ontvang vir die beste bouler vir die 2021-2022-krieketseisoen.
Hy was net 15 jaar oud toe hy vir die WP se o.19-Learners with Special Educational Needs (LSEN)-skolespan gekies is. By die nasionale o.19-LSEN-kriekettoernooi in Potchefstroom is hy as beste bouler en beste kolwer vereer.
Hy was ook net 15 jaar oud toe hy vir die WP Dowekrieket-span gekies is. Hy was 16 toe hy as die jongste speler ooit aan die nasionale toernooi in Pietermaritzburg gaan deelneem het.
Ruan is ook vandat hy 16 jaar oud is die onderkaptein van dié span.
Waardevolste speler
Ruan het vanjaar die vyfde plek behaal vir die waardevolste speler uit 90 spelers van al ses provinsies by SA Dowekrieket se interprovinsiale toernooi, wat in April in Kroonstad plaasgevind het. Hy het ook ’n trofee vir die beste speler van een van die uitspeelwedstryde ontvang.
Die SA Dowekrieket-span is tydens die toernooi gekies en by die toekenningseremonie aangekondig.
Die span het van 1 tot 9 Oktober in Dubai aan die Deaf International Cricket Council (DICC) se kampioentrofee-toernooi deelgeneem. Die SA span het uitstekend gevaar en as naaswenner geëindig nadat hy in die eindstryd deur Indië verslaan is.
Ruan was beide die openingsbouler en -kolwer in die laaste uitspeelronde, asook die halfeindstryd en eindstryd. Hy het ook die meeste lopies met die kolf vir Suid-Afrika in die eindstryd aangeteken.
Ruan, wat by geboorte as doof gediagnoseer is, was ’n leerder aan die Carel du Toitskool vir dowes by die Tygerberg-hospitaal vandat hy slegs drie maande oud was tot en met preprimêre skool.
Universiteitstoelating
Hy was daarna van gr. 1 tot 5 in die Laerskool Eversdal, en daarna van gr. 6 in die Jan Krielskool in Kuilsrivier, waar hy in Desember 2021 met universiteitstoelating gematrikuleer het. Hy is by sy skool in gr. 11 én 12 as die skool se Krieketspeler van die Jaar aangewys.
Hy wil hom aanstaande jaar as elektrisiën aan die Northlink College bekwaam en later sy eie besigheid begin.
Sy ouers, Paul en Zelda du Plessis, en suster, Melindi (21), is sy trotsste ondersteuners.
“Ek mis nie ’n wedstryd nie,” sê sy pa.





