Oumagrootjie van amper 100 het haar eie resep om lank te leef

Jana AckermannFOTO: Nielen de Klerk


Dalk is die resep vir ’n lang lewe om hard te werk en hard te glo.

Dis juis wat Jana Ackermann (99) se kinders dink as hulle aan haar beste eienskappe dink.

“(As sy nie meer daar is nie), wie gaan nou vir my bid?” sê haar dogter, Christina du Toit.

Ackermann (née De Villiers) gaan op 29 Oktober haar 100ste verjaarsdag vier – ver weg van Malawi waar sy in 1922 gebore is.

Kon sy in haar twintigerjare dink wat sy in haar lewe sou beleef?

’n Wêreldoorlog, die begin van kitskosrestaurante, hoofweë, die internet, die televisie of die eerste man op die maan?

Daar in Malawi het sy en haar drie sibbe saam met hul sendelingouers gebly voordat hulle Villiersdorp toe getrek het toe sy ses was.

Sy het later jare in Bloemfontein vir verpleegster geleer, waarna sy Stellenbosch toe getrek het.

Dis in Stellenbosch waar sy die liefde van haar lewe, Willie Ackermann, ontmoet en in 1947 getrou het.

Hulle het drie dogters gehad – Christina, Joeline en Bettie Joubert – en het in 1973 na Somerset-Wes verhuis.

Willie, ’n kredietbestuurder, is in 1984 oorlede.

Haar dogters sê Ackermann was byna nooit siek nie.

Sy het wel in die jare tagtig kolonkanker gekry, maar dit is al vir dekades in remissie.

Buiten haar drie dogters het sy ook sewe kleinkinders en 11 agterkleinkinders.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article