Van links is Helette Wessels (maatskaplike werker), Mariette Roos (streeksorganiseerder: Weskus Solidariteit Helpende Hand) en Netta Coetzer, gesondheidsorg-bestuurder by Othello-aftree-oord, met die oorhandiging van die prosteses.


“Boesemvriendinne” by die Othello-aftreeoord in Brackenfell het hul breinaalde opgetel om in samewerking met die Kankervereniging van Suid-Afrika (Kansa) en Solidariteit Helpende Hand amper 100 borsprosteses te brei vir vroue met borskanker, wat nie silikoon-prosteses of borsrekonstruksie kan bekostig nie.

Lede van die breiklub het gesamentlik 65 breipakkette aangekoop vir die Boesemvriendin-projek, wat daarop toegespits is om mastektomie-pasiënte by te staan.

“Borskanker is ’n diagnose wat geen vrou ooit wil kry nie, en daar is nie veel wat enigiemand van buite kan doen om die nuus te versag nie. Baie mastektomie-pasiënte wat kan, kry terselfdertyd ’n borsrekonstruksie, maar vir baie vroue is dit nie bekostigbaar nie, en die verlies wat hulle ervaar, is diepgaande. Dit is waar Helpende Hand se Frouevonds met die idee vorendag gekom het om hul jaarlikse breiprojek in 2021 te wy aan die maak van sagte borsprosteses vir behoeftige vroue wat ’n bors verloor het,” sê ’n woordvoerder vir Helpende Hand.

Agterstevoor gespel

Die Frouevonds, wat binne Helpende Hand gestig is om vroue te bemagtig, spel sy naam juis so agterstevoor omdat dit wil wys dat dinge soms verkeerd loop in die lewe.

“ ’n Breipakket is saamgestel met die brei- of hekelpatroon, wol en vullingsmateriaal om een prostese te maak. Hierdie pakkette, wat vir R60 gekoop kan word, is versprei onder vrywilligers wat saam wou brei.”

“Die vroue het so goed gevorder dat Kansa ook die breiklub versoek het om nog 100 prosteses, wat klaar gebrei was, net vas te werk en te stop. Op dié wyse is daar vir vroue hoop gegee en hul vrouwees ondersteun,” sê die maatskaplike werker, Helette Wessels van Othello-aftreeoord.

“Die Boesemvriendin-projek het ook die geleentheid gebied dat daar vir ons plaaslike inwoners ook ondersteuning gebied is en die dankbaarheid waarmee elke prostesepakket ontvang is, laat ’n blywende indruk,” sê sy.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article