Ondanks ’n “ongelooflike reaksie” op hul hulpkreet, sukkel Huis Masonic vir kwadrupleë en parapleë in Uitzicht in Durbanville steeds om kop bo water te hou.
TygerBurger het vroeër berig Huis Masonic het besluit hulle moet hul spesiaal aangepaste bussie verkoop uit desperaatheid om te oorleef (“Gestremdes moet hul bussie nou verkoop”, 31/08).
Finansiële knyptang
Bok Radio het daarna in reaksie op die berig ’n eenmalige bedrag van R10 000 geskenk.
Huis Masonic se storie is ook op Bok Radio se Facebookblad Hoop – Bok Radio Gemeenskapsprojek geplaas.
“Huis Masonic het ook ’n hele paar nuwe Klub 500-lede gekry. Ons wil hulle van harte bedank. Iemand het ook na vore gekom om ons te help met bemarking,” sê Lizé Pitt, ’n inwoner van die tehuis sedert sy ontstaan.
Die tehuis se Klub 500-projek behels dat weldoeners ’n lid word deur slegs R50 of meer per maand by te dra. Daar is ook elke maand ’n gelukstrekking, waarin die wenner R1 000 kan wen.
“Danksy hierdie hulp is die spreekwoordelike ‘wolf’ tot die einde van November van ons voordeur weggehou, maar ons is steeds in ’n finansiële knyptang,” sê Pitt.
Buiten die basiese oorhoofse maandelikse kostes om die tehuis vir die inwoners aan die gang te hou, is daar ook instandhoudingskostes soos die diens van die bussie, loodgieterdienste – een van die storte is tans verstop – en so meer.
Klub 20-projek begin
Derhalwe het Huis Masonic besluit om ook ’n Klub 20-projek vir sake-ondernemings te begin.
“Die gedagte is om 20 ondernemings te werf, wat minstens een diens per jaar gratis sal lewer. Byvoorbeeld, vier motorhawens kan elkeen een of meer maande se brandstof (sowat R1 300 per maand) vir die bussie skenk of ’n loodgieter kan die verstopte stort gratis herstel,” sê sy.
Huis Masonic is ’n geregistreerde Artikel 18A-goedgekeurde nie-winsgewende organisasie. Enige finansiële skenkings, asook gratis dienste, is belastingaftrekbaar.
“Sodanige bydraes sal ook as positiewe reklame vir die sakeonderneming dien,” sê Pitt.
Die basiese maandelikse operasionele kostes van die tehuis beloop bykans R30 000. Dit sluit slegs die elektrisiteits- en waterrekening, voedsel en salarisse in. Die personeel werk in skofte, want daar moet 24 uur per dag personeel aan diens wees om aan die inwoners se basiese behoeftes te voldoen, sê sy.
Ander uitgawes soos brandstof, telefoonkostes en skoonmaakmiddels word van die inwoners se persoonlike Sassa-ongeskiktheidstoelaes verhaal.
Hierdie toelaes beloop minder as R2 000 per persoon per maand.
“Die balans moet ons uit fondsinsamelingsinisiatiewe en skenkings genereer. Van die inwoners se families probeer ook bydra, maar die meeste is self hulpbehoewend,” sê sy.
“Huis Masonic kry wel ’n maandelikse staatsubsidie, maar dit het die afgelope jare dieselfde gebly terwyl kostes bly styg het.”
Die tehuis het sy deure in Desember 2004 geopen en is die tuiste van ses kwadrupleë of parapleë. Hulle benodig ses personeellede om die kwesbare inwoners 24 uur per dag te versorg.
Dak oor die kop
“Dit is steeds ’n baie werklike moontlikheid dat die huis gesluit moet word as dinge nie baie vinnig omdraai nie,” sê sy.
Om ’n dak oor die kop van die inwoners na einde November te verseker, mag hulle dalk nog steeds moet besluit om hul Toyota Quantum-bussie prys te gee en dit te verkoop.
Die bussie, wat spesiaal aangepas is om kwadrupleë en parapleë toegang tot vervoer te gee, word deur die inwoners gebruik vir kliniese en doktersafsprake. Dit word ook gebruik om weekliks voedselskenkings by sekere supermarkte af te haal.
“Ons help ook die gemeenskap deur die bussie soms te leen aan ’n tehuis vir bejaardes of enige ander rolstoelgebruikers in die gemeenskap,” sê Pitt.
Kontak Lize Pitt by 071 675 0052 of lizepitt@gmail.com of Danny Retief by danretief@telkomsa.net om by te dra.





