Van links is Nicole Harker, Sue Hardy (voorsitter van Vriende van die Brackenfell-biblioteek), Trudi du Plessis, Arthurene Theron, Amanda de Beer en Marida van der Merwe.


Tesame het hulle 150 jaar tussen die boekrakke deurgebring.

“Sedert biblioteke twee jaar gelede weer oopgemaak het nadat dit vir ’n tydjie gesluit was in die Covid-19- grendeltyd, het ’n paar bibliotekaresses van Brackenfell-biblioteek afgetree, of is hulle bevorder,” sê Sunell Lötter, hoofbibliotekaresse by die Brackenfell-biblioteek.

Maar omdat personeel vir die grootste deel van die afgelope twee jaar weens Covid-regulasies nie behoorlik kon afskeid neem nie, is daar verlede Saterdag behoorlik gegroet op ’n informele samekoms.

Nicole Harker het die biblioteek in Desember 2020 gegroet toe sy bevorder is en as senior bibliotekaresse by die Bishop Lavis-biblioteek aangestel is.

Daarna het Trudi du Plessis, die kinderbibliotekaresse, aan die einde van Maart 2021 ná meer as 40 jaar in die biblioteekdiens afgetree.

“ ’n Maand later het Arthurene Theron op pensioen gegaan. Arthurene se verbintenis met die Stad Kaapstad was reeds sedert 1974 toe sy as beurshouer haar biblioteekstudies begin het. Nicole, Trudi en Arthurene het voorheen ook verskeie jare saam by die Parow-biblioteek gewerk,” sê Lötter.

Aan die einde van Augustus 2021 het Marida van der Merwe ná 26 jaar by die Brackenfell-biblioteek afgetree nadat sy en haar man na Onrusrivier verhuis het, en einde Desember gaan Amanda de Beer met welverdiende aftrede ná meer as 27 jaar by die biblioteek.

“Amanda se absolute toewyding, deeglikheid en kennis van die biblioteekstelsel sal nie maklik vervang kan word nie en die personeel gaan haar geweldig baie mis.

“Die vroue se ondervinding en kennis van die biblioteekbedryf sal gemis word. Hul mentorskap, oordra van kennis, werksetiek en uitstekende voorbeeld oor dekades heen het egter ’n positiewe invloed op jonger generasies van biblioteekpersoneel gehad. Hierdie groep sal hul bes doen om met dieselfde toewyding en vriendelike diens die biblioteek van krag tot krag te laat gaan.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article