Motorbande is vanoggend aan die brand gesteek in Hindleweg, Blue Downs.

Verskaf

Inwoners van Blue Downs het vanoggend (Maandag 28 November) vroeg aan ‘n protesoptog deelgeneem. Daar word beweer dat dele van dié gebied vir ses tot sewe dae reeds sonder elektrisiteit en water is.

Video’s wat op sosiale media versprei is wys hoe uitgebrande motorbande in Hindleweg, Blue Downs lê en mense in die gebied saamdrom. In een van die video’s kan ‘n vrou gehoor word wat vertel hoe die polisie beweer dat protesgangers klippe gooi, maar dat dit glo nie die geval is nie.

Kevin Jacobs, woordvoerder van die Stad Kaapstad se verkeersdienste, sê hul beamptes was in die gebied nadat onrus in die Blue Downs-gebied aangemeld is. Talle paaie was vanoggend vir motoriste gesluit insluitend Hindleweg en Klipfonteinweg; Hindleweg en Bardaleweg; Hindleweg en Saxdownsweg; sowel as Hindleweg en Heidelbergweg.

Motoriste is gewaarsku om versigtig te wees.

‘n Inwoner het gesê Hindleweg kan nie gebruik word nie weens die brandende motorbande en dat die gebied die oggend gevaarlik was.

Didas Wabahombwa, ‘n inwoner en besigheidseienaar wat ‘n salon en internet-kafee in Hindleweg bedryf, sê werkers van Eskom het wel die middag na die gebied uitgekom.

“Hulle werk op twee plekke, en hulle sê elke deel sal sowat vier ure neem om te herstel. Hulle ondersoek die probleem en het aangedui dat hulle teen 20:00 vanaand sal klaar wees.”

Die protes het bedaar, maar inwoners is steeds in die gebied, sê Wabahombwa.

“Die gemeenskap het gesê indien daar nie vanaand elektrisiteit is nie, sal hulle weer motorbande brand,” sê hy.

Die Stad se Metro-polisie en Wes-Kaapse openbare-orde-polisie-eenheid was op die toneel. Die Wes-Kaapse polisie het navrae na die Mfuleni-polisiekantoor verwys. Eskom is ook navrae gestuur, maar het teen spertyd nog nie daarop gereageer nie.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article