Misdaad op galop in die Parow-polisiëringsgebied

Foto ter illustrasie. Foto: Getty Images


Die misdaadstatistiek vir die periode van 1 Julie tot 30 September is verlede Woensdag uitgereik.

Luidens dié statistieke was misdadigers in die Parow-polisiëringsgebied meer bedrywig as in naburige gebiede, wat ook Bothasig insluit.

Daar is nege moorde in die periode aangemeld – twee meer as in dieselfde periode die vorige jaar.

Vyf gevalle van poging tot moord en vier van seksuele oortredings is ook aangemeld.

Aanranding, roof vier hoogty

Altesame 15 gevalle van aanranding met die doel om ernstig te beseer en 85 gewone aanrandingsake is aangemeld.

Buiten dit is daar ook 93 gevalle van algemene roof en 136 gevalle van roof met verswarende omstandighede aangemeld.

Dit is 23 gevalle meer as in dieselfde periode verlede jaar.

Nege gevalle van huisroof en altesaam 43 gevalle van huisbraak is in dié periode aangemeld.

Wat voertuie aanbetref, is 38 gevalle van diefstal van motors of motorfietse aangemeld.

Altesame 151 gevalle van diefstal uit motors is aangemeld. Nege motorkapings is ook aangemeld.

Besighede ook slagoffers van misdaad

Besighede hier het ook erg deurgeloop. Luidens die statistiek is 134 kommersiële misdaadsake aangemeld en 52 gevalle van winkeldiefstal.

Dwelms, nog ’n euwel in die sakekern, het ook hoë syfers opgelewer. Altesame 339 dwelmverwante sake is aangemeld – 148 sake meer as in dieselfde periode verlede jaar.

Net nege gevalle wat verband hou met die onwettige besit van vuurwapens en ammunisie is aangemeld. Altesaam 55 sake van dronkbestuur is gerapporteer.

Misdaad in Bothasig minder

In dieselfde tydperk vanjaar is slegs een moord in die Bothasig- polisiëringsgebied aangemeld. Geen gevalle van poging tot moord of seksuele oortreding is in die tydperk daar aangemeld nie.

Vier gevalle van aanranding met die doel om ernstig te beseer, en 24 gevalle van gewone aanranding – 11 meer in vergelyking met dieselfde periode verlede jaar – is aangemeld.

Slegs drie gevalle van gewone roof en 36 gevalle van roof met verswarende omstandighede aangemeld – 20 meer as in dieselfde periode verlede jaar.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article