Klagte van moord, roof en verkragting het van Julie tot September teenoor die vorige jaar in die Wes- en Oos-Kaap gestyg. Foto: Andre Damons


Die jongste misdaadsyfers wat verlede week kort voor die begin van die jaarlikse 16 Dae van Aktivisme vir Geen Geweld teen Vroue en Kinders deur Bheki Cele, minister van polisie, bekendgemaak is, skets ’n bleek prentjie.

Die statistiek vir die tweede kwartaal van die 2022/’23-boekjaar dui misdaad aan wat tussen 1 Julie en 30 September deur die polisie aangeteken is.

Kontakmisdade – moord, poging tot moord, seksuele oortredings, aanranding en roof – het in die Wes-Kaap met 21,8% toegeneem vergeleke met die ooreenstemmende periode verlede jaar.

In die drie maande is 1 050 mense in die Wes-Kaap vermoor.

Landswyd is 7 004 moorde aangeteken, waaronder 989 vroue en 315 kinders.

Volgens Cele se voorlegging was daar in die tydperk ook 1 155 pogings tot moord op vroue en 294 op kinders, asook 13 701 vroue en 1 895 kinders wat aangerand is met die doel om ernstig te beseer.

In die ooreenstemmende tydperk verlede jaar is 1 468 seksuele oortredings in die Wes-Kaap aangemeld – die laagste in vyf jaar. Voor die pandemie in 2019 was dit 1 877 en vanjaar 1 815.

Plaaslik

Die Kuilsrivier-polisie het in die tydperk 248 kontakmisdade aangeteken – ’n toename van 4,2% (teenoor 2021). In die ooreenstemmende kwartaal in 2019, voor die Covid-pandemie, is 343 kontakmisdade plaaslik aangeteken.

Kuilsrivier het sewe moorde en sewe pogings tot moord gehad, teenoor 15 moorde en 17 pogings in dieselfde kwartaal in 2021, wat buitengewoon bloedig was.

Meer as dubbeld soveel seksuele oortredings is aangemeld – 16 sake teenoor sewe in 2021. Hiervan was agt verkragtings.

Roof met verswarende omstandighede het ook bykans verdubbel vergeleke met 2021 met 83 sake (46 in 2021).

Die 82 kommersiële misdade wat by die Kuilsrivier-polisie aangeteken is, was die meeste vir die ooreenstemmende kwartaal in vyf jaar (vorige vier jaar was daar tussen 56 en 59 sake).

Die naburige Brackenfell-polisiekantoor is onder die top-30 polisiekantore landswyd wat kommersiële misdaad betref.

Brackenfell het ’n geleidelike toename oor die afgelope vyf jaar van 52 in 2018 tot 179 sake in die betrokke kwartaal vanjaar gehad (70 meer as verlede jaar).

In Kuilsrivier het winkeldiefstal toegeneem (57, van 34 in 2021), maar in 2019 en 2020 is meer as 70 voorvalle in die ooreenstemmende kwartaal aangeteken.

Misdaad wat aangeteken is as gevolg van polisieoptrede toon ’n verwagte toename sedert die pandemie toe sekere beperkings in plek was.

Die Kuilsrivier-polisie het in die drie maande nege mense aangekeer vir die onwettige besit van vuurwapens of ammunisie (vyf in 2021) en 146 dwelmverwante inhegtenisnemings (124 in 2021).

Waar meer as 50 mense vir bestuur onder die invloed van drank of dwelms in dieselfde kwartaal in 2018 en 2019 in Kuilsrivier in hegtenis geneem is, was dit tydens die pandemie in 2020 en 2021 minder as 20, en vanjaar 37.

Twintig minder huisbrake (80) is plaaslik aangeteken. Daar was 27 inbrake by sakepersele in die drie maande (21 in 2021).

Ses motorkapings is aangeteken teenoor drie ’n jaar gelede. Daar was agt huisrooftogte vergeleke met vyf in 2020 en ses in 2021 tydens die pandemie, en meer as 10 in 2018 en 2019.

Rooftogte by sakeondernemings het gewissel tussen 10 en 13 voorvalle van 2018 tot 2020 in dié kwartaal, en vyf in 2021 tot 12 vanjaar.

Die Kuilsrivier-polisie het in die betrokke drie maande geen voorvalle van bankroof, transitoroof, vragmotorkapings en brandstigting gehad nie.

Elders in metro

Van die polisiekantore wat landswyd onder die top-30 genoem word, is Delft wat 69 moorde (vierde meeste), 65 verkragtings (derde), 76 seksuele oortredings (derde) en 196 voorvalle van kwaadwillige beskadiging van eiendom (vierde) aangeteken het.

Die Mfuleni-polisie het 171 sake van ernstige aanranding (derde); 342 gewone aanrandings (tweede); 963 kontakmisdade (derde); 11 brandstigtings (eerste); 198 sake van kwaadwillige beskadig van eiendom (derde) en 71 voertuigkapings (sesde) aangeteken.

Loop maar lig in die middestad. Buiten die tweede meeste voorvalle van gewone roof (263) het, die Kaapstad-sentraal-polisiekantoor ook die meeste voorvalle van diefstal vanuit voertuie (724) aangeteken.

Stellenbosch was tweede meeste (391) en Bellville sewende meeste (231). Kuilsrivier het 74 gehad.

Kaapstad-sentraal is ook boaan die lys vir diefstal wat nie onder ander kategorieë vermeld is nie (888), asook eiendomverwante misdaad (905). Stellenbosch het die vyfde meeste eiendom-verwante misdaad (566) gehad.

Kaapstad-sentraal het 269 voorvalle van kommersiële misdaad (sewende) en 124 van winkeldiefstal (vierde) aangeteken. Nyanga (174), Harare (100) en Philippi-Oos (82) het die meeste voertuigkapings gehad.

Mitchell’s Plain (18), Manenberg (14) en Stellenbosch (12) het die meeste seksuele aanrandings.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article