Party mense gryp na ’n drankbottel of na pille om ’n gebroke hart te help sus en met hul lewens aan te beweeg.
Die entrepreneur en musikant Johan Potgieter het egter ’n ander manier waarop hy sy verlies hanteer. Hy het ’n klomp uiteenlopende musikante van oor die wêreld heen bymekaar gemaak om ’n liedjie op te neem.
Bottles & Pills is onlangs vrygestel en bevat ’n kombinasie van Afrikaanse en Engelse lirieke, met ’n magdom kunstenaars wat daarin optree – onder andere Hunter Kennedy, EjayCPT, Kulture Gang Music (KGM) en die Amerikaner Phifty Cal. Die regisseur Hef The Chef het die instrumentale beat geskryf.
Die liedjie “weerspieël ’n verslawingspad van pyn (en) hartseer”, maar dis eintlik net ’n manier om oor te dra hoe pynlik die liefde kan wees, sê Potgieter.
“Ek sukkel baie om hartseer te verwerk en het hierdie liedjie gemaak om dié hoofstuk in my lewe af te sluit,” sê hy.
Die hele proses het begin toe Potgieter vir Hunter Kennedy oor die liedjie genader het.
“(Ek) wou nog altyd saam met Hunter Kennedy werk. Hy is ’n ongelooflike liedjieskrywer.”
Die res het net in plek geval toe Potgieter die verskillende kunstenaars nader. Elke kunstenaar het sy eie stuk gesing of opgevoer en Kennedy het die liedjie bymekaar gebring met die brug wat hy geskryf het.
Rich Boy Clothing
Potgieter is ook bekend as die eienaar van Rich Boy Clothing, wat handelsware verkoop wat onder meer op Bellville fokus.
Getrou aan sy aard is die video ook in Bellville geskiet.
“Ek en my goeie vriend TheFullFrameFox het die musiekvideo geskiet en juis hierdie bestemmings ‘vertoonvenster’ om vir buitelanders te wys waarop my klerelyn fokus en hoe mooi Bellville is.”
Phifty Cal het vir die video nie self Suid-Afrika toe gekom nie, maar sy clips van oorsee af gestuur, wat FullFrameFox toe bymekaar gesit het.
“Dit is verreweg my mees oorspronklike en persoonlike liedjie tot op hede.”
Hy is baie opgewonde oor hul sukses sover.
“Ons speel tans op Good Hope FM en die musiekvideo vaar vreeslik goed.”
Hy het ook groot planne vir Rich Boy Clothing, wat volgende jaar sy 10de verjaarsdag vier. “Ek het vir julle drie woorde: ‘Watch this space’!”
- Besoek Richboyclothing.co.za of hul Facebookblad vir meer inligting.





